Na aanleiding van Psalm 17 (lees 2020-vertaling)

Here, my gesprek met U oor gebed wat in die stil ure van die nag as’t ware uit my gees gepers word, reflekteer my ervaring van gemeenskap met U, én die bevestiging van u liefde vir mense aan wie U die gawe van geloof skenk. Ek
deel die psalmis se ontdekkings oor U in sy nag gebede.

Here, die psalmis getuig dat U sy hart snags toets en hom ondersoek waneer die gewoel van die lewe stil word. Dit resoneer met my persoonlike ervaring van ontmoetings met U in die nag én in oomblikke van stil gemeenskap. As
ek u stem in stilte onderskei, sien ek hoe U na mý kyk.

Die psalmis se oortuigde aanspraak op sy regverdige saak en lippe sonder bedrog, vang my ietwat onkant, Here. Ek is nie heeltemal seker hoe ek dit moet verstaan nie. Gee dit uitdrukking aan hoe die bidder objektief oor sy eie gedrag
oordeel, of is dit sy ervaring van hoe U na hom kyk?

In die suiwerende proses van bepeinsing in die nag, Here, en ’n eerlike ontboeseming voor U oor elke aspek van my lewe, bring die gemeenskap met U diep binne my die verligting en bevryding dat U niks vind wat my vir ewig van U
vervreem en hooploos laat met my eie ondeug nie.

Die tye van stilte in gemeenskap met U, Here, en nagtelike peins sessies oor sorge van die lewe, het met verloop van tyd die naelstring aan U geword wat lewe deurvoer en my nuut na U en myself laat kyk. Die gawe van gebed en helende krag van ’n klaagroep, bied egte gemeenskap met U.

Here, die mens wat in die nag na U roep om na sy/haar gebed oor ’n regverdige saak te luister, het vêr gevorder en diep gegroei om uiteindelik te kan/te wil erken dat die oordeel oor sy/haar lewe by U setel en van U af kom. Deur die
smeltkroes heen sien ek die beeld van u gesuiwerde mens.

Here, dit is hoe ek die psalmis se selfregverdigende beoordeling vandag verstaan. In die suiwerende worsteling met U deur die klaagroep van die nag gebed, word die opregte gelowige daarvan bewus dat U na hom/haar kyk met u oë van troue liefde; as die Verlosser wat regverdig onderskei.

Here, dankie dat ek nou kan sien hoe U na my kyk. Ek roep na U. Rig my voete om u paaie nougeset te volg.
Amen

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond

RCL JAAR C – TWEE EN TWINTIGSTE WEEK VAN KONINKRYKSTYD