LUKAS 21:5-19 (2020-vertaling)
Lukas 21:5-19 vorm steeds deel van Jesus se bediening in Jerusalem voor sy finale lyding en dood aan die kruis op Golgota (19:29-21:38). Dié Skrifdeel speel af op een van die dae waarop Jesus die volk op die tempelterrein onderrig en die evangelie verkondig het (20:1). By dié geleentheid praat sommige (dissipels, 20:45; vgl. Matt 24:1, Mark 13:1) oor die indrukwekkende bouwerk van die Jerusalem tempel. Die uiterlike konstruksie en die argitektoniese skoonheid van die bouwerk laat hulle verwonderd (vers 5). Jesus se dwars opmerking gee aanleiding tot diepsinnige gesprek oor tekens en die toekoms. Jesus sê die totale aardse bouwerk wat hulle so bewonder, sal afgebreek word (vers 6).
Die skok van Jesus se uitspraak en ondenkbaarheid dat dié majestieuse bouwerk van reuse klip tot niet kan gaan, laat die toehoorders met verbasing vra: “Meester, wanneer sal hierdie dinge dan gebeur, en wat is die teken wanneer dit gaan gebeur?” (vers 7) Die dissipels se vraag stel die tematiese raamwerk van tyd en tekens aan die orde. Die dissipels vra ’n tydsaanduiding vir beide die vernietiging van die tempel as wêreldse kategorie, én die aanbreek van die eindtyd as eskatologiese kategorie. Vir vroeë Christene was die vernietiging van die tempel die teken van die verwagte einde (eskatologie).
Die kategorieë van teken en tyd is vir gelowige mense belangrik. Ook vir ons is kerklike geboue simbool van God se teenwoordigheid in ons gemeenskappe. Die Christelike Jaar gebruik tyd en simboliek (tekens) om God se heil vir die wêreld te vier. Ons oordink dié Skrifdeel in die voorlaaste week van die Liturgiese Jaar; ’n oorgangstyd. Ons is op weg na Sondag van Christus die Koning (23 Nov), asook Eerste Advent (29 Nov) en daarna. Ons nadenke oor die vernietiging van die tempel verskerp die teken van Jesus se naderende kruisdood (Luk 23:46), sy Koningskap en die gees van afwagting deur die nuwe Kerkjaar-siklus in Advent met die oog op die viering van Jesus se geboorte as mens in ons wêreld.
Ons moet Jesus se antwoord op die vraag van sy dissipels op die tempelterrein destyds, fyn hoor as ’n boodskap wat ons perspektief gee oor wat werklik vir ons belangrik is in die tydsgewrig waarin ons onsself bevind. Daar is uiteenlopende stemme en verklarings oor wat in ons wêreld gebeur, asook hoe ons dit behoort te verstaan. Geloofsonderskeiding is nou net so belangrik as destyd kort voor Jesus se gevangeneming en kruisiging. Jesus waarsku ons ook teen misleiding van wie Hy is en oor die eindtyd: “…daar sal baie mense in my Naam na vore tree en sê: ’Dit is ek!’ of ‘Die tyd is op hande!’” (vers 8).
Jesus noem ’n lys dinge wat ons aandag in dié lewe mag trek. Dit kan as tekens (simbole) ons gedagtes só besig hou, dat ons ons perspektief van God af weg skuif. Dit kan veroorsaak dat ons doof en blind is vir God se gestuurde roeping vir ons lewe. Die onvrede tussen volke en nasies in ons wêreld, asook natuurverskynsels wat ons lewe ontwrig, is nie in die eerste plek tekens waarvolgens ons die aanbreek van die eindtyd moet probeer bepaal nie. Dié dinge is alles deel van die aardse bestaan waarvoor Christus se volgelinge in dié lewe te staan kom. Die dissipels moet hulle ook nie kwel oor die tyd wanneer die einde aanbreek nie. Dit kom beslis. God bepaal die bestemde tyd.
Die deurslaggewende perspektief wat Jesus beklemtoon is dat die onrus en gewoel in ons wêreld, die geleentheid is om van Hom te getuig. Jesus berei sy dissipels voor; hulle sal ter wille van sy Naam deur almal gehaat word, soos Hy gehaat is. Jesus verseker en troos sy volgelinge dat Hy hulle in vervolging sal lei en sal krag gee. Die redding van Jesus se dissipels in die eindtyd met sy wederkoms, hang ten nouste saam met die dissipels se volhardende getuienis in die tussentyd voor daardie dag. Ons word geroep om te vertel: Christus is inderdaad die Here en Verlosser: “Dit sal vir julle ’n geleentheid wees om te getuig” (vers 13).
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond