‘God self het ons saam met julle op hierdie vaste grond gevestig: op Christus. God het ons vir Hom afgesonder, ons as sy eiendom beseël en die Heilige Gees in ons harte gegee as waarborg van wat ons nog sal ontvang.’ 2 Korintiërs 1:21-22
Kosbare, wedergebore kind van God. As jy na jouself in die spieël kon kyk met geestelike oë, sou jy gesien het dat jy ’n naamplaatjie dra waarop daar staan: Die Here s’n.
Hy het jou, al voor die wêreld geskep is, uitgekies om Syne te wees. Jou losgekoop met die kosbare bloed van Christus, en jou naam in die Boek van die Lewe neergeskryf. As waarborg hiervan, het Hy die Heilige Gees in jou hart uitgestort. (Ef. 1:4-5; 1 Pet. 1:18-19; Op. 3:5)
Hy hou dié wat aan Hom behoort stewig in sy hand vas, en omdat jy Syne is, ken jy die Stem van jou Herder.
‘My skape luister na my stem; Ek ken hulle, en hulle volg My. Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie. Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie.’ Johannes 10:27-29
Die wonderlikste daarvan om die Here s’n te wees, is dat Hy jou ken. Nie net van jou weet nie, maar jou so goed ken dat Hy selfs op datum is met hoeveel hare daar nog op jou kop oor is.
Hoe is dit moontlik dat Hy jou so deeglik kan ken terwyl jy een van ’n paar biljoen mense op aarde is?
C.S Lewis verduidelik dit nogal mooi in sy boek Beyond Personality: The Christian Idea of God:
“God has infinite attention, infinite leisure to spare for each one of us. He doesn’t have to take us in the line. You’re as much alone with Him as if you were the only thing He’d ever created.”
Die almagtige God aan wie jy behoort is nie gebind deur tyd en ruimte nie. Hy gee nie net aandag aan jou sodra Hy tyd kry nie. Nee, jy is Syne en Hy weet alles van jou af. (Ps. 139:1-18)
Liewe, wedergebore kind van God. Hou jou kop hoog en jou treë doelgerig. Leef voluit en volhard. Want jy is die Here s’n.
Geskryf deur Madeleine Venter