Na aanleiding van Psalm 46 (lees 2020-vertaling)

Here, aan die einde van die Christelike Jaar met die viering van Christus die Koning, gaan baie emosies deur die hart. Talle gedagtes meld by mens aan. Terwyl geloofsgemeenskappe oraloor u heerskappy liturgies vier, herinner nuusberigte ons aan oorloë tussen nasies en onreg op elke vlak.

Nuusflitse vanoor die wêreld, bring mense se ervaring van natuurrampe tot in die persoonlike ruimte van elke individu en huishouding. Here, aardskuddings en oorstromings, smeltende ysberge en stygende watermassas konfronteer
ons met die ontwrigting van chaos en ons weerloosheid.

Wanneer ons mense benoud staan te midde van ontembare natuurverskynsels, asook die onstuimige gewoel en onrus wat magsiek leiers en misdadige persone veroorsaak, Here, word mens diep bewus van die ervaring van vrees in
jou. Ek móét bely dat ek dikwels net bang is vir alles.

Wanneer die bangheid en vrees vir kragte en magte in my gees nes skrop, Here, wonder ek oor wat u kerk eintlik vier op die laaste Sondag van die Christelike Jaar. Waar ervaar gelowiges dat Christus die Koning is, te midde van gebeure wat vrees genereer en my bang laat rond streier?

Here, wanneer dié negatiewe gedagtes en ontwrigtende ervarings dreig om my van balans te gooi, maak U my bewus van die groter en tydlose geloofsgemeenskap waarvan ons in Christus deel kan wees. U stel my/ons bloot aan gebede van voorgangers, wat dieselfde ervarings gehad het.

Dankie, Here, vir die geloofsgoed wat die Psalmboek vir ons nagelaat het: gebede van vertroosting en bemoediging, belydenisse oor wie U is en wat U in bang tye vir u kinders gedoen het. Dankie vir die Christelike Jaar, wat ons help om liturgies te vier wat U vir ons wil wees en doen.

Here, die intense troos wat bang gelowiges ontvang vanuit u voorsiening van geloogfsgoed en -gemeenskap, met ’n skare getuies wat ons aanhou herinner dat U alleen ons bron van krag is, gee betekenis aan die psalmis se oortuiging dat U altyd te vinde is. U is teenwoordig. U is ook mý skuilplek.

Nou kan ek bedaar en my bang gemoed in u hande plaas. Ek weet U is God; Die Here, Heerser oor alle magte. Amen

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond

RCL JAAR C – VIER EN TWINTIGSTE WEEK VAN KONINKRYKSTYD