MATTEUS 3:1-12 (2020-vertaling)

Vir die Tweede Sondag van Advent neem Revised Common Lectionary (RCL) ons na die begin van Johannes die Doper se openbare optrede in die woestyn van Judea (vers 1). In die voorafgaande twee hoofstukke vertel Matteus van Jesus se geboorte en kinderjare. Hoofstuk 3 beweeg 30 jaar vooruit na Johannes die Doper se bediening as profeet, ná 200 jaar afwesigheid van profete in Israel. Johannes funksioneer as oorgangsfiguur in die Matteus Evangelie. Nadat Matteus vertel het van Jesus se vroeë jare in Betlehem, Egipte en Nasaret, gee hy ’n oorsig oor die optrede van die Doper in ons Skrifdeel. Dan vertel hy van die koms van die volwasse Jesus van Galilea na die Jordaan in Judea, waar Jesus deur Johannes gedoop word (vers 13-17) en daarna met sy eie bediening begin (4:1 ev.)

Matteus benadruk Johannes se verband met Israel se profetiese tradisie. Johannes se optrede staan in kontinuïteit met die Ou-Testamentiese profete. Matteus verwys na Jesaja 40:3 as begronding vir Johannes se profetiese bediening: “Hy is immers die een van wie die profeet Jesaja gepraat het…” (vers 3). Daar is ook ’n verband tussen Johannes en Elia, wat deur Johannes se kleredrag en daaglikse dieet (vers 4) aangetoon word, asook ooreenkomste tussen die gevolge van Elia en Johannes se optrede binne hul kontekste. Elia het die argwaan van koning Agab en sy vrou Isebel op die hals gehaal met sy optrede teen die Baāl profete, terwyl Johannes later deur koning Herodes gedood is.

Die belangriker punt van Matteus se oorsig oor Johannes se bediening wat hy invoeg tussen Jesus se vroeëre lewe en die begin van Jesus se bediening, is juis om aandag op Jesus te vestig. Dit is nie die persoon van Johannes wat Matteus beklemtoon nie, maar eerder sy boodskap wat die lig laat val op Jesus Christus. Van Hom getuig Johannes in vers 11: “Hy wat na my kom, is sterker as ek, en ek is nie eers werd om sy sandale vir Hom aan te dra nie.” Dit is presies hierdie fokus en perspektief wat ons in die tweede week van Advent moet registreer. Die Sterker Een is aan’t kom en ons moet ons aan Hom oriënteer. Ons moet by Jesaja en Johannes inval om die pad vir die Here gereed te maak (vers 3).

Dit is goed moontlik om met verkeerde motiewe in Adventstyd voor te berei vir die viering van Jesus se geboorte. Ons kan vroom godsdienstige praktyke handhaaf met die valse oortuiging dat ons God se guns kan wen en sy oordeel kan vryspring. Die Fariseërs en Sadduseërs (belangrikste Joodse groepe) het klaarblyklik met dié valse houding by Johannes die Doper opgedaag om gedoop te word. Die Doper het egter dwarsdeur hul uiterlike fasade van vroomheid gesien en hulle met kras woorde veroordeel omdat hulle sou dink hulle kan God se oordeel vryspring (vers 7). Hy het onomwonde verklaar dat geen eie verdienste of verbintenis aan Abraham hulle sou red nie (vers 9). Die enigste Redder is die Sterker Een wat die nuwe verbond inlui met die doop van die Heilige Gees en met vuur (vers 11).

Die boodskap van Johannes wat ons hard en duidelik in Advent moet registreer om geloofsgetrou daarop te reageer, is sy oproep tot bekering in die lig van die heerskappy van God wat in die Sterker Een op hande is (vers 2). Om na God toe terug te keer, beteken dat ons nie moet probeer om die oordeel vry te spring deur allerlei valse praktyke tot selfregverdiging nie. Ons lewenswyse moet daarvan getuig dat ons inderdaad deur die Sterker Een gelouter en gesuiwer is tot die ewige lewe.

Laat ons mekaar aanspoor tot en ondersteun om vrugte te dra wat pas by egte gehoorsaamheid aan die Here wat ons roep om na Hom toe terug te keer. Johannes wil ons van niks en niemand anders bewus maak nie as Jesus wat ná hom gekom het nie. Net Hy is waardig om as Verlosser verkondig en nagevolg te word.

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond

TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Tweede Week van Advent – Jaar A