MATTEUS 10:24-39 (2020-vertaling)
Ons reis verder met Matteus se vertelling van die verhaal oor Jesus se bediening na aanleiding van die diskoers in hoofstuk 9:35-11:1. In ons vorige meditasie oor hoofstuk 9:35-10:8 het ons gesien hoe Jesus sy gesag as Seun van God uitoefen, maar ook dat Hy sy gesag aan sy dissipels oordra vir sy voortgaande bediening deur hulle. Toe Jesus die skare sien het Hy hulle innig jammer gekry (9:36), sy twaalf dissipels na Hom toe geroep, aan hulle gesag gegee vir die bediening onder die mense (10:1), en hulle uitgestuur met die opdrag om eers na die “verlore skape van die huis van Israel” te gaan (10:5). Matteus 10:5-23 bevat Jesus se instruksies aan sy dissipels vir hul bediening. Sy woorde in vers 16 sou moontlik sy dissipels (leerlinge) kon ontmoedig vir die opdrag aan hulle: “Ek stuur julle uit soos skape onder die wolwe”. In Koninkrykstyd dink ons juis na oor wat dissipelskap behels en wat dit van Jesus volgelinge vra.
In vers 24-25 vergelyk Jesus mense van verskillende gesagsposisies wat in verhouding met mekaar staan. Hy gebruik drie beelde uit die sosiale lewe om sy dissipels daarop te wys dat hulle dieselfde behandeling moet verwag op hul sending na die “verlore skape van die huis van Israel”, as wat Hy ervaar het. Die leerling volg immers die onderrig van die leermeester na en die slaaf voer die opdragte van die eienaar uit. Jesus verwys verder na die Fariseërs se beskuldiging teen Hom dat Hy bose geeste deur Beëlsebul uitdryf (Matt 12:24). As Hy die huisheer (derde beeld) Beëlsebul genoem word, sal die dissipels (huismense) dieselfde naam gegee word. Jesus het hulle reeds in dié verband gewaarsku: “Wees op julle hoede vir die mense…” (vers 17) en: “…julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam” (vers 22). Ons ken die Engelse uitdrukking, ‘like father, like son’. Jesus se dissipels moet sy voorbeeld navolg.
In vers 26-31 keer Jesus terug na sy waarskuwing teen mense wat hulle sal oorlewer, gesel, voor die heidene laat getuig (vers 17-18) en hulle ter wille van sy Naam sal haat (vers 22). Drie keer herhaal Jesus dat die dissipels nie moet vrees (verse 26, 28) of bang wees (vers 31) nie. Hy noem verskillende redes waarom hulle nie hoef te vrees of bang te wees nie. Eerstens gaan dit oor die openbaarmaking van die boodskap wat Jesus aan hulle opdra en die verkondiging daarvan in die openbaar (vers 26-27). Tweedens gaan dit om die onderskeiding oor wat mense werklik die dissipels kan aandoen. Hulle kan die liggaam doodmaak, maar God bepaal hulle eindbestemming. God kan die totale mens (liggaam en siel) in die verderf werp. Indien daar sprake is van vrees, moet die dissipels dié onderskeiding maak. Vertrou op God. Derdens herinner Jesus sy dissipels aan hul waarde in God se oë (vers 29-31). Hy gebruik die beeld van die oënskynlik nuttelose mossie oor wie die Vader Hom ontferm. Net so ontferm die Vader Hom oor sy dissipels. Hy weet van elke haar op hulle hoof. Wees dus bemoedig! God sal die boodskap van verlossing aan die lig bring, Hy bepaal mense se eindbestemming en Hy ken ons in die fynste besonderheid.
Daar is nog twee punte wat Jesus beklemtoon in ons Skrifdeel. In vers 32-33 gaan dit oor die belydenis van Jesus se Naam voor die mense. Elkeen wat dit openlik doen, sal deur Jesus voor sy hemelse Vader bely word. Dit is ’n heerlike aanmoediging vir dissipels wat soos skape tussen wolwe beland. In vers 34-39 beklemtoon Jesus die noodsaak van die keuse om Hom te volg en die belangrikheid daarvan om Hom in alle omstandighede as ons prioriteit te stel. Die beeld vanuit die familielewe beklemtoon juis die radikaliteit van die lewe as dissipel van Jesus. Dit gaan nie oor die afskryf van geliefdes nie, maar om die prioriteit van Jesus in ons lewe. ’n Laaste gedagte is die opneem van jou kruis, volgens Jesus se voorbeeld. Kruisdra kenmerk dissipelskap (vers 38). Dit vra bereidheid om jou lewe ter wille van Jesus prys te gee. Die inhoud van dié verse kan ons nie ligtelik hanteer nie. ’n Leerling is nie verhewe bo die leermeester nie.