‘Volg my voorbeeld, soos ek die voorbeeld van Christus volg.’ 1 Korintiërs 11:1
Die negentiende-eeuse outeur, William J. Thoms, het die volgende bekende opmerking gemaak: ‘Be careful how you live; you will be the only Bible some people ever read.’
Paulus het dieselfde raad aan Timoteus gegee:
‘Let goed op jou lewe en jou leer, volhard daarin, want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as dié wat na jou luister.’ 1 Timoteus 4:16
Kom ons wees nou maar eerlik, dit is nie altyd maklik om ’n goeie voorbeeld te stel nie. Ons verloor soms ons humeur, maak selfsugtige keuses, skinder en kla saam, is oneerlik met tye, en laat glip so nou en dan ’n vloekwoord.
Dit is nie moontlik vir enige mens om elke oomblik van sy/haar bestaan eenhonderd persent voorbeeldig te wees nie. Tog moedig die Woord ons as Christene aan om ten minste te probeer, want jou optrede kan diegene wat jou dophou se redding of val bepaal.
In plaas daarvan om jou leefstyl by wêreldse tendense aan te pas, behoort jy stroomop te swem. En dit is ’n baie groot uitdaging. Daar word beweer dat C.S. Lewis die volgende gesê het: ‘When the whole world is running towards a cliff, he who is running in the opposite direction appears to have lost his mind.’
Alhoewel daar onsekerheid heers oor wie die eintlike outeur van hierdie aanhaling was, bly dit steeds ’n kragtige gedagte.
Paulus sê dat Timoteus op sy lewe en leer moet let en daarin moet volhard. En dit is die geheim.
Wanneer jy op jou leefwyse let stel jy rigtingwysers op. Jy ken Jesus se woorde en die eienskappe wat Hy voorgehou het. Jy wend ’n daadwerklike poging aan om die Vrug van die Gees uit te leef.
Wanneer jy hierin volhard, raak dit uiteindelik ’n gewoonte. Hoe sterker die gewoonte in jou gewortel raak, hoe makliker gaan dit wees om reg op te tree en die regte woorde op die regte tyd te gebruik.
Die goeie nuus is dat jy dit nie in jou eie krag hoef te doen nie, want jy het die Heilige Gees as helper ontvang.
Hy herinner jou voortdurend aan alles wat Jesus gesê het, en Hy lei jou in die wysheid van bo.
Al wat jy hoef te doen, is om Hom toe te laat.
‘Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.’ Galasiërs 5:25
Pas dus op om so vinnig die verskoning te gebruik dat jy net ’n mens is wat foute maak. Jy is nie net ’n mens nie. Jy is ’n tempel van die Heilige Gees. ’n Ligdraer. ’n Rigtingaanwyser. Gaan leef soos een.
Geskryf deur Madeleine Venter