MATTEUS 18:21-35 (Lees die 2020-vertaling)

Matteus 18:21-35 beskryf die laaste toneel van Matteus se vierde hoof deel (13:54-19:1 of 2) oor Jesus se bediening, waar Hy Hom tot sy kleiner groep dissipels wend vir geloofsvorming en toerusting. In hoofstuk 18 onderrig Jesus sy dissipels oor hulle gedrag as lede van die nuwe messiaanse gemeenskap wat Hy besig is om deur sy aardse bediening op te rig. Hierdie nuwe gemeenskap is in wese die gemeenskap van verlostes wat hul bestaan te danke het aan die vergiffenis van mans en vroue vir wie Christus gesterf het. Op mense wie se sonde deur Christus se sterwe aan die kruis vergewe is, sy dissipels, rus die dwingende verpligting om die oortredings wat ’n mede-gelowige teen jou persoonlik gepleeg het, te vergewe. Dis die slotsom van Jesus se onderrig aan sy dissipels (vers 35) op Petrus se vraag (vers 21).

Ons Skrifdeel open met ’n vraag van Petrus aan Jesus oor ’n wesenlike aspek van menswees, maar in die besonder van ons identiteit en lewe as Jesus volgelinge. Petrus vra vir Jesus oor ’n saak waarmee elke mens worstel, naamlik om te vergewe. Hy is reeds goed bewus daarvan dat vergiffenis van mense wat jou benadeel het, ’n kern eienskap is van iemand wat Jesus as dissipel wil volg. Vir Petrus is dit blykbaar moeilik denkbaar dat verwag kan word jy moet sonder perke vergewe. Binne die konteks van Jesus se onderrig oor die lewenshouding en gedrag van verloste mense in die messiaanse gemeenskap wat Hy vorm, beperk Petrus sy vraag tot die kring van hulle wat nou saam met Jesus beweeg: “Here, hoeveel keer sal my broer teen my sondig en ek hom vergewe?” (vers 21). Petrus dink moontlik dit is makliker om ’n mede-gelowige (broer) te vergewe en dat mense buite dié kring eintlik uitgesluit is.

Petrus mag dink hy beperk die gesindheid van vergiffenis tot mede-gelowiges, maar hy skep ook die indruk dat hy ruimhartig en akkommoderend is. Hy kwantifiseer die daad van vergiffenis met ’n getal wat volgens hom wys hy verstaan hoe belangrik dit is om ten minste jou mede-gelowiges te vergewe wanneer hulle teen jou sondig. Petrus vra vir Jesus: “Tot sewe keer toe?” (vers 21). Jesus laat sy gewaande groothartige borrel bars as Hy antwoord: “Ek sê vir jou, nie tot sewe keer nie, maar tot sewentig maal sewe keer” (vers 22). Ek sien in my gedagtes hoe Petrus se oë rek as Jesus ’n getal noem wat sy trotse ruimhartigheid onsinnig laat. Vir Jessus gaan dit nie om die aftel van getalle nie, maar om die hart se gesindheid. Jesus noem ’n wesenskenmerk van die gemeenskap van mense wat vergewe is. Iemand stel dit so: “Die gemeenskap van verlostes is nutteloos indien diegene wat vergewe is self onvergwensgesind leef.”

Dit is immers wat Jesus al met die Bergpredikasie in Matteus 6:9-15 vir sy dissipels geleer het oor gebed: “En vergeef ons ons skulde, soos ook ons hulle vergeef wat teenoor ons skuldig staan” (6:12). Dit is juis waarom Jesus in ons Skrifdeel die storie vertel van die koning wat rekenskap van sy slawe wou eis (vers 23-34). Jesus vertel dié verhaal sodat Petrus en die ander dissipels kan verstaan dat daar in die koninkryk van die hemele ’n ander werkswyse geld as dié van getalle en die aftik van my goeie optrede teenoor ander. Soos die koning sy slaaf jammer gekry het en hom begenadig het, moes die slaaf ook die mede-slaaf wat aan hom geld verskuldig was, begenadig het. Jesus se samevatting van die les wat Hy sy dissipels leer, is nie ’n ligsinnige geselsie nie. Dit is ’n saak van lewe en dood: “So sal my hemelse Vader met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie” (vers 35).

Maar hoe heerlik klink Jesus se belofte nie, ná sy onderrig oor gebed tydens die Bergpredikasie: “Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe” (6:14). Dis die gesindheid wat Jesus beklemtoon as geloofshouding vir die gemeenskap van hulle wat vergewe is.

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Sestiende week van Koninkrykstyd – Jaar A