MATTEUS 18:15-20 (Lees die 2020-vertaling)

Matteus 18:15-20 is deel van Matteus se vierde hoof deel (13:54-19:1 of 2) oor Jesus se bediening, waar Hy Hom tot sy kleiner groep dissipels wend vir hul geloofsvorming en toerusting. Hoofstuk 18 bevat temas uit Jesus se onderrig aan sy dissipels oor hulle gedrag as lede van die nuwe messiaanse gemeenskap wat Hy in die lewe geroep het met sy bediening op aarde. Jesus beklemtoon die unieke waardes van die koninkryk van die hemele, waar nederiges, nie die self-geldendes nie, waardevol is (18:1-4). Die geringes (kindertjies) wat geloofsgetrou en lojaal aan die Koning is, het in God se oë ewigheidswaarde. Jesus waarsku teen optrede wat enige van sy volgelinge laat struikel en verhinder om God te nader (18:6, 7). Die fokus van God se ewige liefde is op elkeen wat mag wegraak uit sy nuwe gemeenskap. Hy soek die een wat weggeraak het (18:12). Dit is die gesindheid wat by die dissipels aanwesig moet wees.

In vers 15 stel Jesus ’n praktiese voorbeeld om die gesindheid te beskryf wat Hy met die gelykenis van die skaap wat weggeraak het, verkondig het. Dit mag in die geledere van Jesus se nuwe gemeenskap gebeur dat ’n broer of suster buite die kring van gelowiges beland. Dan moet dieselfde gesindheid geopenbaar word as wanneer ’n eienaar se skaap wegraak en hy die ander nege-en-negentig los om die enkele afgedwaalde skaap te gaan soek (18:12). In Jesus se praktiese voorbeeld gaan dit oor ’n geloofsgenoot wat teenoor ‘jou’ (persoonlik) gesondig het. Die vraag is dan hoe jy as dissipel van Jesus, die beginsel van die enkele skaap sal toepas om die gemeenskap van verlostes te herstel. Tot watter mate sal jy uit jou pad gaan om ’n mede-gelowige terug te bring na die gemeenskap van Christus toe?

Jesus noem nie die spesifieke ‘sonde’ nie. Dit blyk uit die argument dat die broer/suster se optrede diep ontwrigtend mag wees en die onderlinge verhoudinge in die weegskaal plaas. Ons het waarskynlik almal in ons lewens een of meer situasies belewe waar ’n mede-gelowige se optrede jou geskok of teleurgestel het. Jesus dui hier ’n weg aan vir hoe ’n lid van sy nuwe gemeenskap in sodanige situasie kan optree. Die proses van drie fases wat Jesus aandui, is nie noodwendig bedoel as ’n wet of absolute voorskrif nie. Moontlik het Jesus eerder bedoel om sy dissipels voor te berei om nie kortpaaie te loop nie. Die herstel van verhoudinge en bewusmaking van die effek van iemand se optrede op die gemeenskap, kan tyd en opoffering vra. Die band van liefde wat die nuwe gemeenskap van Christus bind, vra bereidheid om selfs ’n moeisame pad te stap ter wille van versoening en skuldbelydenis. ’n Persoonlike ontmoeting in die Naam van Jesus, is die beginpunt.

Die tweede stap, naamlik om twee of drie getuies met jou saam te neem indien die persoon nie op jou persoonlike toenadering wil reageer nie, het nie slegs ten doel om die ander persoon van jou beoordeling te oortuig nie. Dit het ook ’n element van self-ondersoek, in die sin dat ek bereid moet wees om my eie beoordeling van die saak voor getuies te lê. Die uitkoms van hierdie tweede fase in die proses kan dan selfs wees dat ék verkeerd bewys word. Is ek bereid om die beginsel van die enkele skaap ook op myself toe te pas sodat liefde en geregtigheid in Christus se gemeenskap gehandhaaf word.

In Jesus se voorbeeld is daar ’n derde fase wat daarop dui dat die ander persoon se optrede wel deur die getuies afgewys word, maar dat hy/sy ook weier om na hulle te luister. Dan moet die persoon se optrede deur die gemeenskap beoordeel word. Nou noem Jesus dat die gemeenskap gesag het om sodanige persoon as heiden en tollenaar te behandel, omdat die beginsel van God se koninkryk verwerp word en die persoon gekies het om nie tot God te nader nie. Is ons bereid om dié lang pad van liefde te stap?

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Vyftiende week van Koninkrykstyd – Jaar A