MATTEUS 10:40-42 (2020-vertaling)

Ons vertoef ’n derde keer by Jesus se diskoers in hoofstuk 9:35-11:1, nou die verse waarmee Jesus sy uitsendingsopdragte aan sy dissipels afsluit. Ons het gesien (9:35-10:8) hoe Jesus sy gesag as Seun van God uitoefen én sy gesag aan sy dissipels oordra vir sy voortgaande bediening deur hulle. Jesus het die skare gesien, hulle innig jammer gekry (9:36), sy twaalf dissipels na Hom toe geroep, hulle gesag gegee vir bediening onder mense (10:1), en hulle uitgestuur met die opdrag om eers na die “verlore skape van die huis van Israel” te gaan (10:5). In 10:5-23 gee Jesus instruksies vir hulle bediening en in 10:24-31 wys Hy sy dissipels daarop dat hulle dieselfde behandeling kan verwag op hul sending as wat Hy ervaar het. Drie keer bemoedig Hy hulle om nie te vrees (verse 26, 28) of bang te wees (vers 31) nie. God sal sy boodskap van verlossing openbaar, Hy bepaal mense se eindbestemming en ken elkeen in die fynste besonderheid.

Die oorkoepelende struktuur van Jesus se uitsending diskoers, beklemtoon dat die gestuurde dissipels se ervaring die patroon van Jesus se bediening sal vertoon. Dit geld ook wat Jesus in Matteus 10:40-42 met hulle deel, naamlik dat die verwelkoming (ontvangs) van ’n dissipel is soos om Jesus self te ontvang (verwelkom). Iemand wat aan een van die geringes ’n beker koue water gee, bloot omdat hy ’n dissipel is, sal beslis beloon word. Dit gaan oor wié versorging ontvang, nie primêr oor die oorvloed van sorg wat gebied word nie. Jesus se punt is dat die dissipels se ervaring sal ooreenstem met die ervarings wat Jesus as gestuurde van die Vader onder die “verlore skape van Israel” ondergaan het. Die patroon word herhaal.

Terwyl Jesus die dissipels in dié drie verse direk aanspreek in die tweede persoon, blyk dit egter dat sy uitsprake eerder gerig is op die gemeenskappe wat die dissipels sal ontvang om aan hulle gasvryheid te bewys. Die Matteus evangelie fokus volgens geleerdes direk op die omstandighede van kerke twee of drie generasies ná Jesus se bediening. Die vroegste gemeentes is blykbaar deur ’n oorvloed reisende predikers besoek. Dit het groot uitdagings aan die gemeentes gestel ter onderskeiding van wie verwelkom behoort te word. Die Didache (riglyne van die apostels) wat in die vroeê tweede eeu saamgestel is, het waarskynlik Matteus gebruik, wat met dieselfde vraagstukke geworstel het. Hoe onderskei ons vandag tussen die diverse boodskappe en teologiese perspektiewe wat verkondig word? Wie behoort ons te ontvang?

Matteus se uitsending diskoers spreek tot die kerk op twee vlakke. Eerstens identifiseer die kerk haarself met die verhale van die eerste dissipels. In opdrag van Jesus verkondig sy kerk nie alleen die koninkryk van die hemele nie, maar demonstreer ook die heerskappy van God in die wêreld deur woord en daad. In sommige kontekste beteken dié sending en boodskap gevaar. Op die tweede vlak herken die kerk in Matteus 10:40-42 die uitdaging om te onderskei tussen ware en valse boodskappers, asook om diegene te ondersteun wat die waarheid van die evangelie van Jesus Christus verteenwoordig. Die dissipels dra die werk van Jesus verder, terwyl die kerk vandag deelneem aan die dissipels se getuienis en bediening. Dit beteken dat die heerskappy van God uitbrei tot buite die grense van Jesus se aardse bediening.

Soos van die ander Evangeliste, herinner Matteus ook die kerk dat Jesus by hulle is waarheen hulle gestuurde opdrag hulle ookal lei (18:20; 28:20). Jesus se uitsending diskoers openbaar herhaaldelik hoe Jesus se eie ervaring vorm aanneem in dit wat sy dissipels ná Hom ervaar. In ons Skrifdeel het hierdie patroon betrekking op beide die dissipels se gesag om in die Naam van Jesus te reis én op die kerk se behoefte om in geloof die egte en onegte getuienis oor Jesus te onderskei. Die kwesbaarheid van die geringes is bewys daarvan dat die gelowiges se gestuurde sending volledig van God se leiding afhanklik is.

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Vyfde week in Koninkrykstyd – Jaar A