Na aanleiding van Psalm 105:1-7, 37-45 (lees 2020-vertaling)
Here, ek nader U in gebed na aanleiding van nog ’n psalm in die reeks lofpsalms van 103 tot 107. Met die oproep tot sy geloofsgenote inspireer die Psalmis my om u Naam uit te roep en u dade aan die volke bekend te maak. Hy gee
riglyne vir hoe ons as u uitverkorenes, U moet loof.
Die Psalmis se aansporing oor wat sy geloofsgenote moet doen, Here, steek ’n vuur in my aan die brand wat my op ’n trajek plaas van herinnering en herkenning. Die bidder gebruik werkwoorde wat my in beweging bring: beroem,
sing, praat, prys, bekendmaak, roep en soek. Ja, net vir U.
Die werkwoord wat my met dié rondte getref het, Here, is die woord “soek”. Die Psalmis wys die bidder op u krag en u teenwoordigheid. Dit wek my tot nadenke en herinnering. Waar het ek en my geloofsgenote u kragtige dade beleef in
ons lewe? Hoe is U teenwoordig in ons gewone menswees?
Wanneer ek die oefening ondeneem van nadink en onthou, Here, stimuleer die woord “soek” uiteenlopende emosies in my. Enersyds borrel ’n gevoel van speelsheid by my op soos met kindertyd, toe ons wegkruipertjie gespeel het. Om U te soek maak my opgewonde, maar daar is ook iets ontwykend.
Nadenke en herinnering by ons wat U opsoek, Here, maak ons bewus dat ons nie in die oomblik leef nie en nie ingestel is op wat U daagliks in ons lewe doen nie. Dit is asof u dade ons ontgaan, vir ons wegkruip. Dit vra inspanning om dit op te roep. Ons herken nie u voortgaande teenwoordigheid nie.
Die ervaring van u ontwykende teenwoordigheid, Here, spoor die Psalmis aan om sy geloofsgenote te herinner aan hulle verhaal van bevryding uit Egipte. Kinders van Jakob, sy uitverkorernes, moet onthou God het sy volk laat wegtrek en was in die wildernis by hulle teenwoordig. Onthou dit!
Here, ons sien U nie altyd raak in u wolk waarmee U ons beskerm, of die vuur waarmee U ons pad verlig nie. Ons eet die brood op ons tafels en geniet die vleis wat U voorsien, maar sien nie u hand as die Gewer wie steeds, soos vir Israel, kwartels en brood uit die hemel en water uit ’n rots voorsien nie.
Here, maak my oë oop, sodat ek u sorgende teenwoordigheid elke dag raaksien en met vreugde jubel as ek u dade herken.
Amen
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond