Na aanleiding van Psalm 106:1-6, 19-23 (lees 2020-vertaling)

Here, ons gebed sluit vandag aan by die voorafgaande Psalm 105, wat ons herinner aan die geskiedenis van u dade van trou in Israel se lewe. In die lig daarvan is dit nie moontlik om die Psalmis se aansporing om u lof te besing, nie ernstig te neem, u troue liefde te erken nie.

Terwyl ons so na woordeskap soek om u magtige dade te verwoord en u lof te verkondig, Here, herinner die Psalmis ons aan ’n tweede werklikheid. Dit maak ons bewus van sondeskuld en roep tot verootmoediging. Ja, ek het afgedwaal, goddeloos opgetree, U verlaat.

Here, dis aangrypend hoe naby lofprysing en erkenning van ons sondeskuld aan mekaar lê in ons diens aan U. Een oomblik staan jy verstom oor u verlossing. In een asem moet jy ook erken jy het God verruil vir ’n ander. Die Psalmis herinner ons aan die voorouers se sondes.

Die ontnugtering van die Psalmis se herinnering aan die pad wat U met ons voorouers gestap het, Here, is dat u heilswerk deur mense omgekeer word in on-heil. Ons kies om U te verruil vir sigbare af-gode wat ons met die hande vorm. Ons vervang U met ’n bees wat gras vreet.

Here, dieselfde model verhaal wat getuig dat U verlos, is ook die model verhaal wat my herinner aan wie ek is, hoe ek van U af weg beur wanneer ’n geleentheid opduik. Ek staan voor U skuldig en erken my neiging om van U af te
dwaal. Ek buig verootmodigvoor U, mỳ God.

Die Psalmis herinner my ook vandag aan my kollektiewe skuld aan en verantwoordelikheid vir die sonde van ons voorouers, Here. Hoe dikwels ontken ons geslag nie ons voorouers het teen U gesondig nie? Ons is soms erg
verontwaardig as ons geskiednis hulle aan die kaak stel.

Ja, ons voorouers het teen U gesondig, Here. Dit vertel die Psalmis ons in u meesterverhaal oor u volk se bevryding uit Egipte. Ons is óók skuldig dat ons nie verantwoordelikheid wil aanvaar vir die sisteme wat ons voorouers nagelaat het nie. Die Psalmis erken sy sonde saam met die voorouers.

Here, dankie dat U na Moses se pleiterede geluister het en Israel nie vernietig het nie. Dankie vir u Seun, Jesus, wie óns Middelaar by U is.

Amen
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
RCL JAAR A – TWINTIGSTE WEEK VAN KONINKRYKSTYD