MATTEUS 22:34-46 (Lees die 2020-vertaling)

Matteus 22:34-46 bring ons aan die einde van die verhaal eenheid wat by Matteus 21:23 begin. Regdeur dié eenheid stel Matteus die godsdienstige leiers op as Jesus se teenstaanders, met die lokalisering van dié konflikte die Jerusalem Tempel; sentrum van Joodse onderrig, gesag en ortodoksie. Matteus meld die diep frustrasie van Jesus se opponente wat telkens misluk in hul pogings om Hom oor sy lering in diskrediet te bring (22:15). Hul mislukkings beklemtoon juis Jesus se gesag as die Messias wat in lewende lywe voor hulle oë staan in God se huis. In Matteus 22:15-22 kon die Fariseërs en sommige Herodiane nie vir Jesus vasstrek met hul vraag oor die betaal van belasting aan die keiser nie. Hulle het verbaas weggegaan (22:22). Die Sadduseërs probeer Jesus troef met hul vraag oor die opstanding (22:23-33), maar Jesus weerlê hulle argument (22:33) en bring hulle tot swye (22:34).

In ons Skrtifdeel is dit weer die beurt van die Fariseërs. Hulle toets Jesus met ’n vraag oor wat die belangrikste gebod in die Wet is (22:34-40). Jesus draai egter weer die vergrootglas op sy opponente met sy vraag oor die Messias: “Wat sê julle van die Christus? Wie se Seun is Hy?” (22:42). Van dié punt af, skryf Matteus, “het niemand ooit weer gewaag om Hom te ondervra nie” (22:46). Regdeur al die konfrontasies met die godsdienstige leiers van die Jode, handhaaf Matteus sy onderskeidende voorstelling van Jesus se identiteit. Met sy ontmaskering van die Fariseërs en Herodiane se motiewe agter hul vraag oor die betaal van belastings, bevestig Jesus dat alles wat aan God behoort aan God teruggegee moet word (22:21). Dit was reeds met sy aanvanklike toetsing deur Satan in die woestyn (4:1-11), Jesus se boodskap. In sy ontmaskering van die Saduseërs se lokval, verkondig Jesus “die God van lewendes” (22:32), in erkenning van die bron vir sy eie toekomstige oorwinning oor die dood, waarmee dié Evangelie afsluit.

Die Fariseërs se toets aan Jesus oor die belangrikste gebod in die Wet, sluit met ’n gevolgtrekking wat gebaseer is op dieselfde beginsel van interpretasie as wat Jesus regdeur Matteus se vertelling toepas, naamlik dat “die hele Wet en die Profete” (22:40) berus op twee gebooie: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand” (vers 37), en: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (vers 39). So eindig hierdie konfrontasie tussen Jesus en die Fariseërs, ’n insident wat net deur Matteus gedokumenteer is. God se voorskrif vir die lewe en menslike bestaan voor God in gemeenskap met alle mense, is liefde wat deur God in ons harte geplant word.

In die laaste konfrontasie met die Fariseërs wat Matteus aanteken, vra Jesus doelgerig die deurslaggewende vraag aan sy opponente, soortgelyk aan die vraag wat Hy in Caesarea Filippi (16:15) aan die dissipels gevra het. Nou moet die Fariseërs Jesus antwoord: “Wat sê julle van die Christus? Wie se Seun is Hy?” (22:42). Jesus wil die identiteit van God se Messias vir die verloregaande wêreld beklemtoon. God se Messias is méér as die “Seun van Dawid”. Die Jode het inderdaad verwag dat die Messias uit die nageslag van Dawid sou kom. Hulle verwagting en hoop was op ’n politieke bevryder wat die juk van die Romeinse onderdrukkers van hulle kon afwerp en hul ander vyande sou vernietig.

Jesus bevestig wel dat God se Messias uit die nageslag van Dawid kom, maar Hy is ook Een vir wie Dawid self “deur die werking van die Heilge Gees, ‘Here’ noem” (vers 43). Jesus se geheimenisvolle en oorweldigende gesag wat Matteus regdeur sy Evangelie bevestig, gaan veel verder as die Jode se tradisonele messiaanse verwagting. Hy is óók Dawid se Here. Net so herinner Jesus vir my en jou aan Petrus se belydenis in Caesarea Filippi: “U is die Christus, die Seun van die lewende God” (16:16).

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Twee en Twintigste week van Koninkrykstyd – Jaar A