Vir Willie — en vir almal wat agterbly om weer te leer leef.

Daar is oomblikke in die lewe wat jou tot stilstand dwing. Oomblikke waarin die geraas van die lewe skielik stil raak en jy, sonder dat jy daarvoor gekies het, met die werklikheid van jou eie bestaan gekonfronteer word.

Die dood is so ’n oomblik.

Veral wanneer dit onverwags kom. Wanneer ’n fratsongeluk ’n lewe beëindig, sonder waarskuwing, sonder afskeid, sonder die geleentheid om nog een keer te sê wat dalk ongesê gebly het. En dan staan jy daar, met jou ongeloof, met jou vrae, met jou hart wat nog nie verstaan wat jou verstand reeds probeer verwerk nie. Iewers tussen die skok en die stilte begin jy wonder: Hoe sê ’n mens totsiens aan iemand wat jy nooit gedink het jy nou moes groet nie?

Dalk is dit nie eens die regte vraag nie. Dalk moet ons eerder vra:

Wie sê eintlik vir wie totsiens wanneer die dood onverwags kom?

Is dit ons, wat agterbly, wat totsiens sê aan die een wat weggaan? Of is dit die een wat gaan wat, sonder dat ons dit besef, reeds totsiens gesê het aan alles wat vir ons nog môre is? Staan ons, die agterblywendes, nie uiteindelik met ons eie lewe in ons hande nie — starend na dit wat was, onseker oor dit wat nog kom, en skielik pynlik bewus daarvan dat niks hier aan ons behoort nie?

Willie se dood het my weer laat stilstaan by die broosheid van die lewe. By hoe maklik ons aanneem dat daar nog tyd is. Dat daar nog môres sal wees. Dat ons nog geleenthede sal kry om lief te hê, om te gee, om iemand vas te hou en om te sê: Ek is bly jy is hier.

Ons ploeter so maklik voort. Vasgevang in ons roetines, ons bekommernisse, ons planne en ons gejaag na dit wat ons dink belangrik is. Ons stel liefde uit. Ons wag vir die regte oomblik. Ons leef asof die lewe ’n belofte van tyd aan ons gemaak het. Tot die dood ons skielik  herinner dat tyd nooit ons s’n was nie. En dan besef jy hoe maklik ’n mens die werklikheid van die lewe heeltemal kan miskyk terwyl jy besig is om dit te leef. Want wat bly uiteindelik oor wanneer alles wat ons as vanselfsprekend aanvaar het, van ons weggeneem word? Wanneer status, besittings, prestasies en al die dinge waarna ons so hard gejaag het, skielik betekenis verloor?

Wat bly oor van ’n mens? Miskien is die antwoord nie so ingewikkeld soos ons dit soms probeer maak nie. Miskien is dit liefde. Die soort liefde wat nie geraas maak nie. Wat nie erkenning soek nie. Wat nie eers vra of iemand dit verdien voordat dit gee nie. Die soort liefde wat ek in Willie gesien het. Hy was iemand wat eenvoudig nie by ’n mens in nood kon verbygaan nie. Daar was altyd ’n oop hand wat bereid was om te gee en ’n arm wat gereed was om te omhels. Woorde was dikwels nie eens nodig nie. Jy kon net by hom wees en dit beleef. Jy kon sy deernis sien, sy hart ervaar en iets van sy liefde verstaan sonder dat hy dit ooit hoef te verduidelik.

Dit was nie net wat hy gesê het nie. Dit was wie hy was.

Almal wat oor sy pad gekom het, het iets van die liefde van Jesus in hom beleef, ervaar en gesien. Nie noodwendig deur groot gebare of indrukwekkende woorde nie, maar deur die eenvoudige, alledaagse manier waarop hy mense raakgesien het. Hy het ons herinner aan iets wat ons so maklik vergeet: dat liefde nie altyd ’n verduideliking nodig het nie. Dat deernis nie eers toestemming vra om ’n verskil te maak nie. Dat jy nie altyd die wêreld hoef te verander om iemand se wêreld vir ’n oomblik draagliker te maak nie. Soms hoef jy net daar te wees, net te luister, net jou hand uit te steek, net iemand te laat voel dat hulle nie alleen is nie en dalk is dit juis waar die evangelie die duidelikste sigbaar word — nie net in wat ons oor Jesus sê nie, maar in hoe ander mense Hom deur ons beleef.

Willie het dit verstaan. Of dalk het hy dit bloot geleef, sonder om ooit te besef hoe diep hierdie eenvoudige manier van leef in ander se harte sou bly voortbestaan en nou is hy nie meer hier nie.

Hoe verstaan ’n mens dit?

Hoe maak jy vrede met die feit dat iemand wat soveel lewe, warmte en liefde in ander se lewens ingebring het, skielik nie meer deel van jou daaglikse bestaan is nie? Ek weet nie of daar woorde is wat hierdie verlies volledig kan beskryf nie. Ek weet ook nie of ’n mens altyd antwoorde moet probeer vind op vrae waarvoor jou hart nog nie gereed is nie. Miskien moet ons soms net stil word. Miskien moet ons toelaat dat die hartseer ons leer wat ons in die gejaag van die lewe vergeet het, want die dood beroof ons nie net van teenwoordigheid maar ook vir ’n oomblik van ons illusie dat ons alles onder beheer het. Dit ruk die sluier weg en laat ons kyk na die lewe soos dit werklik is: kosbaar, broos, onvoorspelbaar en nooit gewaarborg nie. En dan kom die vraag weer terug.

Wie sê eintlik totsiens?

Ons wat agterbly, huil oor die lewe wat verby is, oor die herinneringe wat ons nou met verlange sal moet Koester. Maar miskien is ons afskeid ook ’n uitnodiging. ’n Uitnodiging om anders te leef, om minder uit te stel, om mense raak te sien, om nie so besig te wees met ons eie lewens dat ons die nood langs die pad miskyk nie. Om ons hande oop te hou, om die liefde verder te dra. As Willie se lewe my iets geleer het, is dit dat ’n mens se ware nalatenskap nie gemeet word aan hoe lank jy hier was nie, maar aan hoeveel liefde jy in ander agterlaat. Miskien is dit die grootste teenstrydigheid van die dood: dat iemand se afwesigheid ons soms helderder laat sien wat sy teenwoordigheid ons kom leer het.

Ons kan gestorwenes nie terugbring nie. Ons kan nie tyd terugdraai nie. Ons kan nie die afskeid ongedaan maak nie. Maar ons kan kies wat ons met die herinnering doen. Ons kan aanhou ploeter asof niks gebeur het nie. Ons kan terugkeer na die gejaag wat laat vergeet dat ons hier is om meer te doen. Of ons kan toelaat dat hierdie verlies iets in ons wakker maak, dat ons weer begin raaksien, dat ons weer begin luister, dat ons weer begin liefhê soos mense wat verstaan dat môre nie belowe is nie. Dan begin ek totsiens op ’n ander manier verstaan.

Miskien is dit nie net die een wat sterf wat totsiens sê nie. Miskien moet ons wat agterbly ook totsiens sê — aan die gedagte dat ons altyd nog tyd sal hê, aan die gewoonte om liefde uit te stel, aan die afstand wat ons tussen onsself en ander mense laat groei. Miskien is dit tyd om totsiens te sê aan die lewe wat ons so dikwels op ’n afstand hou en dan, met nuwe oë, die lewe tegemoet te gaan.

Goeie dag, lewe.

Kom ons loop nader aan mekaar. Nader as ooit. Kom ons maak tyd vir mekaar. Kom ons luister sonder om haastig ’n antwoord te gee. Kom ons hou mekaar se hande ’n bietjie langer vas. Kom ons wees sagter met mekaar, want ons weet nie watter gevegte iemand in stilte voer nie. Kom ons hou op om te wag vir die perfekte oomblik. Kom ons wees die oop hand. Die arm wat omhels. Die mens wat nie by iemand in nood verbygaan nie. Kom ons leef só dat iemand, wanneer hulle eendag aan ons dink, nie net ons naam onthou nie, maar ook hoe dit gevoel het om deur ons liefgehê te word. Nie omdat ons die dood kan keer nie. Nie omdat ons alle seer kan wegneem nie. Maar omdat ons, solank ons hier is, die voorreg het om mekaar se pad ’n bietjie ligter te maak.

Willie, ek weet nie hoe ’n mens finaal totsiens sê nie.

Ek weet net dat jou lewe my iets gewys het wat ek nie mag vergeet nie: dat liefde nie altyd groot woorde nodig het nie, dat Jesus se liefde deur eenvoudige mense sigbaar word, en dat die waarde van ’n lewe dikwels lê in die mense wat ná jou vertrek anders na die wêreld kyk. Ek sou graag nog meer herinneringe wou maak, nog gesprekke wou hê, nog gewone dae saam wou beleef, maar ons kan nie die tyd wat verby is, terugkry nie. Ons kan wel kies wat ons met die tyd wat oorbly, doen. En dalk is dit die antwoord wat ons, die agterblywendes, in ons hartseer moet vind. Nie ’n antwoord wat die dood verstaanbaar maak nie, maar een wat ons help om weer te leef. Om die mense om ons raak te sien, om die liefde van Jesus met oop hande en oop harte uit te deel, om nader aan mekaar te loop, nader as ooit.

Wanneer ons eendag met ons eie lewe in ons hande staan en terugkyk na dit wat was, mag ons dalk ontdek dat die belangrikste vraag nooit was wie eerste totsiens gesê het nie, maar of ons, terwyl ons nog hier was, werklik hier was, werklik liefgehad het, werklik raakgesien het, werklik geleef het, en nie bloot daardeur geploeter het nie.

En miskien, net miskien, is dit waar ons weer moet begin. Nie met nog ’n totsiens nie, maar met ’n nuwe groet:

Goeie dag lewe, mag ek nader loop, nader as ooit?

Geskryf deur Wynand Olivier