Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
Search in posts
Search in pages
wpfc_sermon
wpfd_file

Die afgelope paar maande het die verstaan en die gebruik van tyd baie belangrik geword. Tyd is die belangrikste kommoditeit wat ons hier op aarde het – nie geld en besittings nie – tyd!

En daar is net 24 uur in ‘n dag.

Die mees gebruikte verskoning in die lewe is seker: “Ek het nie tyd nie!”.

Don’t tell me you do not have time!
There is 24 hours in day for everyone!
Albert Einstein

Die lewe wat ons hier op aarde leef, is gebonde aan tyd.

Tyd vra dissipline van elke gebruiker, elke dag.

Iewers moet jy die besluit maak, waaraan wil jy die tyd wat jy het, spandeer. Tyd is min en elkeen van ons leef onder die leuen dat daar baie tyd is. Dat jy iets môre of oormôre kan doen!

Waaraan spandeer jy jou tyd? Wat is jy bereid om op te gee, sodat jy tyd aan iets anders wat belangriker is, kan spandeer?

Die lewe hier op aarde indoktrineer ons om te aanvaar dat ons permanent oorwerk moet wees, sodat ons beter kan lewe en meer kan besit. Sukses word aan die wêreld se standaarde gemeet. Daar is die geloof dat ons vir ʼn hele aantal jare in ons lewe alles moet gee, sodat ons alles aan ons gesinne kan gee en bied.

“My skip gaan eendag inkom …”

Wat gebeur in jou kop as ek vir jou sê dat jou skip reeds hier is, jy moet hom net stuur en die ride geniet!

Dalk dink jy ek het my kop iewers verloor. Miskien dink jy ek praat net oor geld. Nee, my kop is nog reg, en nee ek praat nie net van geld nie en ook nie teen geld nie. Ek wil jou laat dink oor dit wat jy maak met wat jy het. Ek wil jou laat dink oor wat jy maak met wat jy het.

September 2017 beland ek in die hospitaal, die vierde keer in net meer as drie jaar. Ek is taamlik keelvol vir ʼn ICU, want ek verstaan al wanneer hulle in kodetaal rondom die toestand van ʼn pasiënt praat. Ek ken al die name van die medisyne wat ek kry en help by geleenthede die personeel om die regte dosis te gee.

Dinsdagoggend gaan ek teater toe om ʼn nuwe hartklep te kry. Bakterie het op my klep gevorm en vreet die weefsel rondom my klep. Ek is al deur hierdie tipe operasie en ek maak nog grappies tot in die teater waar ek en die narkose-mannetjie, soos ek hom noem, vir oulaas grappies maak … Ek word wakker na die suksesvolle operasie en is oudergewoonte so deurmekaar soos ‘n vlieg tussen tien vrot asblikke.

Dit is Donderdag en ek moet in die stoel sit en opstaan. Die middag gaan ek vir my eerste stappie in die ICU en glimlagte begroet my met aanmoediging. ”Mooi so dominee, well done.” “Jy lyk goed!” “Wow, kyk hoe sterk loop hy.”

Vrydag vroeg gaan ek vir my eerste stap in die groot gang. Dit voel amazing. “Kom ons gaan vir jou tweede stappie dominee?” en daar gaan ons …

Ek het wakker geword op ‘n noodtrollie, met ‘n dokter, nou ‘n vriend, wat bevele bulder en vier ICU susters rondom my, wat sigbaar gerattle is.

Ek het myself hoor smeek: “Los my, eks moeg, los my, los my net. Alles het rustig geword, slow motion, en ek het myself hoor dink, nie in my eie stem nie.

“Staan op, hou op fight, wees wat jy is, wees wat Ek jou gemaak het, leef my roeping in jou en alles sal wees soos dit moet wees.

Die dokter het my later vertel hoe ek in die gang neergeslaan het, ophou asemhaal het en toe hulle ʼn pols kon kry, my pols 6 tot 10 slae per minuut was.

Na vyf dae aan ʼn ventilator gekoppel, word ek wakker en al wat ek vir Ilze kan vertel is dat daar iets gebeur het, iets wat ek nie kan verduidelik nie. Hoe verduidelik ek aan haar dat Jesus my opdrag gegee het om mense te vergewe, ophou kwaad te wees vir Hom, want dit is mense wat my laat ophou het om vir Hom te werk?

Hoe verduidelik ek dat ek weer voluit vir Hom gaan werk? Waar gaan ek die tyd kry? Wat word van die restaurant wat ek het?

Sy glimlag as sy my vertel dat sy al hierdie dinge weet en dat sy reeds iemand aangestel het wat my werk kan doen, sodat ek weer voluit vir Hom kan werk! Twee maande na als, kry sy die moed om my te vertel dat sy in ʼn stadium op pad na die hospitaal vir die Here toestemming gegee het om my maar te kom haal – maak dit asseblief net graceful – het sy gevra.

Tyd is al wat ons het … Daar is niks anders as tyd.

Al wat die lewe is, is tyd. Wat kies jy om te maak met jou tyd? Wat is vir jou dit waaraan jy tyd wil spandeer. Kies reg met jou tyd, want jy en net jy beheer waaraan jy tyd spandeer en met wie. Die dag as tyd verdwyn, dan is die keuse nie meer in jou hande nie … en ook nie in jou geliefde vrou s’n nie.

Lewe het nuwe betekenis as jy besef dat tyd al is wat ons het, as jy besef dat tyd min is. Minder as wat jy dink – met meer genade as wat jy ooit kan begryp.

Gaan leef wie jy is en leef die droom van God wat JY is,
want elkeen van ons is God se droom
wat voete gekry het!”

 

Wynand Olivier