‘Jesus moes gereeld na stil plekke toe uitwyk om ’n bietjie stilte te hê en om te bid’ Lukas 5:16 DB
Dwarsdeur die Bybel sien ons dat God baiekeer belangrike boodskappe oorgedra het terwyl mense alleen was.
Moses was alleen toe God hom vanuit die brandende bos beveel het om die Israeliete uit Egipte te lei. Hy was ook alleen op die berg toe hy die tien gebooie ontvang het.
Joshua was alleen toe die engel aan hom verskyn het met instruksies oor die inneem van Jerigo.
Gideon was alleen in die parskuip toe die engel hom aangemoedig het om Israel uit die mag van die Mediante te bevry.
Petrus was alleen op die dakstoep toe Jesus hom na Kornelius gestuur het om ook met nie-Jode die evangelie te deel.
Johannes was alleen op die eiland Patmos toe hy die openbaring ontvang het.
Wanneer laas het jy na ’n stil plek gegaan om te bid? Lukas sê dat Jesus dit gereeld gedoen het. Hy het die waarde van alleentyd saam met die Vader geken, daarom sê Hy:
‘… as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.’ Matteus 6:6
As jy dink dit is vir jou moeilik om tyd te maak vir stil word, dink net hoe moeilik moes dit vir Jesus gewees het. Daarom het Hy ’n daadwerklike poging aanwend om alleen te wees. Ons lees in Markus dat Jesus vroegoggend, terwyl dit nog donker was, hierdie tyd afgeknyp het – en dit terwyl almal tóé reeds na Hom gesoek het! (Mark 1:35-37)
Dit is belangrik vir ons om, soos Maria, gereeld by Jesus se voete te gaan sit.
Ons leef in ’n tyd waar dit van jou verwag word om besig te wees, en daarom voel jy skuldig wanneer jy jouself ’n oomblik gun om stil te word. Martha het probeer om Maria te laat skuldig voel, en het selfs vir Jesus gevra om vir Maria te sê dat sy moet opspring en besig raak. Maar Jesus se antwoord was:
‘… “Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge, maar net een ding is nodig. Maria het die beste deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie.”’ Lukas 10:41-42
Jy hoef dus nie daaroor skuldig te voel nie. God wag vir daardie stilwordtye sodat Hy met jou kan praat.
Wend daarom hierdie week ’n daadwerklike poging aan vir alleentyd saam met die Here.
Geskryf deur Madeleine Venter