Na aanleiding van Psalm 100 (lees 2020-vertaling)
Here, in dié laaste week van die Christelike jaar wil ek ’n lofoffer aan U bring. Ná Sondag van Christus die Koning, is ek opnuut bewus van u goedheid in my eie lewe. Ja, u troue liefde beleef ek daagliks. Ek wil u Naam prys. In u voorhowe wil ek u lof besing – saam met u hele volk.
Ná die laaste Sondag van die Christelike Jaar, Here, pas dit u volk, die kleinvee wat U laat wei, om te erken U is die Here wat alles in u hand hou. Saam met die Psalmis nooi ons die ganse aarde na die erediens van lofprysing. Ons kom juig tot U eer. Ons bely: U is die Here God!
Here, dankie dat U ons geloofspraktyke leer om U te eer met lofprysing en gejubel. Ons rituele, wandeur ons as u volk U aanbid in u voorhowe, is geestelike middele wat ons herinner wie U is. Ook dat U ons gemaak het. Ons is u kleinvee. Ons behoort aan U en u Is goed!
Here, die Liturgiese Jaar as geloofspraktyk is belangrik. Dit herinner ons aan u teenwoordigheid by ons in die gang van tyd. Omdat die Liturgiese Jaar nie saamval met ons sekulêre kalender nie, maak dit ons juis daarvan bewus dat U in óns geskiedenis inbreek om u heerskappy daar te vestig.
Die geleentheid wat die liturgiese viering van God se tyd in ons leefwêreld vir ons open, Here, is dat dit ons opskerp om te onthou. Hoe belangrik is lofprysing nie vir ons verhouding met U nie? Dit begelei ons in ons inoefen van diens waartoe U ons roep in die wêreld. Ons het praktyke nodig om te leer.
Met die viering van Sondag van Christus die Koning aan die einde van die Christelike Jaar, Here, bied die geloofspraktyk van eredienste in geloofsgemeenskappe geleentheid om in u teenwoordigheid te wees. Daar roep ons mekaar op om U te sien en mekaar te inspireer tot offers van lof aan U.
Here, dankie vir die rykdom van woorde wat die aard van ons lofoffer as geloofspraktyk ontgin. Dankie dat die begeerte om U te loof en te prys direk verbind is aan dankbaarheid. Dit wel in ons harte op omdat ons genade ontvang het om u troue liefde te ervaar, te herken en as u ewige trou te erken.
Ons lofoffer in u teenwoordigheid, Here, laat ons waarlik lewe.
Amen
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
RCL JAAR A – SES EN TWINTIGSTE WEEK VAN KONINKRYKSTYD