MATTEUS 25:14-30 (Lees die 2020-vertaling)

Die 2020-vertaling van die Afrikaanse Bybel plaas Matteus 25:14-30 onder die opskrif, “Gelykenis van die muntstukke”. Daar word dikwels daarna verwys as die “gelykenis van die talente”, na aanleiding van die geldeenheid in die teks. Die interpretasie van die geldeenheid as sou dit verwys na die natuurlike aanleg en ingebore vaardigheid van iemand om ’n sekere funksie te verrig, het die toepassing van die gelykenis verwring. Op dié wyse word “talent” verstaan as ’n kwaliteit waaroor ’n individu beskik en wat hy/sy tot eie voordeel moet/kan aanwend. In die gelykenis behoort die talente egter aan iemand wie dit aan ’n ander persoon toevertrou om die geld nie in eie belang te gebruik nie, maar in belang van die een wat dit aan hom toevertrou het. ’n Sakepersoon het op reis gegaan en ’n groot som geld aan verskillende persone gegee volgens hulle bewese besigheidsvermoë. ’n Talent was gelykstaande aan 6000 denarius en een denarius was die vergoeding van ’n arbeider vir ’n dag se werk.

Na ’n lang tyd het die eienaar van die slawe van sy reis af teruggekeer en die drie slawe beoordeel volgens die konkrete bewys van hul betroubaarheid en getroue hantering van sy toevertroude geld aan hulle. Aan die eerste twee het hy geleentheid gege vir groter verantwoordelikheid en hulle in hul eienaar se vreugde laat deel. Die derde slaaf was bang om die toevertroude kapitaal van sy eienaar op risiko te plaas en het homself probeer regverdig vir sy versigtige optrede. Hy is egter veroordeel as ’n slegte en lui slaaf (vers 26). Sy oorversigtige hantering van die eienaar se kapitaal word dus beoordeel as vertrouensbreuk. Hy het nie dit wat aan hom toevertrou is benut nie. Sy deel word daarmee oorgedra na die eerste slaaf wat bewys het dat hy met die eienaar se besittings vertrou kon word.

Soos die gelykenis van die tien meisies (Matt 25:1-13), handel die gelykenis van die muntstukke óók oor die wederkoms van Christus en die Here se oproep aan sy dissipels om die gawes van die Gees wat aan hulle toevertrou is, geloofsgetrou te benut terwyl hulle op Hom wag. Die kern boodskap van ons gelykenis is dus die oordeel oor die derde slaaf vir sy weifelmoedige en kleingelowige optrede. Daarmee eindig die verhaal. Die moraal van die gelykenis is dat die tydsverloop tussen Jesus se eerste en sy tweede koms, langer mag duur as wat mense verwag. Jesus se dissipels moet voortgaande wilsbesluite neem om prakties gebruik te maak van die gawes van die Gees wat aan hulle toevertrou is. Die tyd tussen Jesus se hemelvaart en wederkoms bied geleenthede om die toevertroude gawes van die Here tot sy eer aan te wend en sy heerskappy oor alle dinge te proklameer. Dit gaan oor gereedheid vir die Here se koms.

Ons Skrifdeel en gelykenis staan naby aan die einde van ’n verhaal wat na sy klimaks beweeg, wanneer die Seun van die Mens sy lewe as losprys vir baie te gee (Matt 20:28). Op hierdie punt van Matteus se verhaal was Jesus self op weg na die duisternis, waar Hy van God verlate sou voel (Matt 27:45-46). In die lig daarvan is dit vir ons belangrik om hier teen die einde van die Christelike Jaar, voor Sondag van Christus die Koning, opnuut na te dink oor die gawes wat God aan ons gegee het om Hom en ons naaste te dien, terwyl ons op Jesus se wederkoms wag.

Die skrifgeleerdes en Fariseërs van Jesus se tyd (Matt 23) het die tekens van God se teenwoordigheid by hulle ontvang, maar dit in die grond gaan begrawe asof dit waardeloos en dood was. Die gawes van Moses se wet, die Tempel as teken dat God tussen hulle woon, die beloftes van God se seën vir Israel en deur Israel, vir die hele wêreld, het hulle nie in diens van God aangewend nie. Hoe wag jy vandag op die Here? Mag dit van ons waar wees dat Jesus ons gereedheid sal beloon deur ons te laat deel in sy vreugde.

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Vyf en Twintigste week van Koninkrykstyd – Jaar A