Gebed na aanleiding van Psalm 66:1-12 (lees 2020-vertaling)

Here, die psalm open perspektiewe op groot en omvattende gemeenskappe van mense wat almal móét kennis neem van wie U is. Die psalmis se oproep aan almal op aarde laat ons besef U is God oor alles en almal, selfs al glo sommige mense nié in U nie.

Dié universele blik op U, Here, daag elke gelowige uit om opnuut te besin oor wie ons dink aandag verdien wanneer ons die eer van u Naam besing en U met ’n loflied eer. Ons kan pragtige lofliedere sing, maar dit beperk tot ons eie klein groepie – die volke vergeet.

Die psalmis sien veel wyer as net die aanbiddingsgemeenskap, Here. Sy kollektiewe oproep aan almal op aarde, ontmasker my eie individualistiese gerigtheid op mense naby my en gelowiges wat gekies het om U te dien. U eer móét veel verder uitkring as net hier!

Die bidder se aarde-omspannende oproep om die eer van u Naam te besing, Here, daag my uit om diep na te dink oor waarom ek dié oproep móét gehoorsaam. U dade is ontsagwekkend! Vyande erken u krag, gee selfs voor hulle is aan U onderdanig – en buig voor U.

Here, dié oproep maak my meteens bewus ek is ingesluit by almal op aarde wat aanbiddend voor U moet buig. Waar ek saam mede-gelowiges u aanbid, rig ons ’n uitnodiging aan mekaar én aan diegene wat U nie wil aanbid nie, om kennis te neem van wat U doen.

As deel van die gemeenskap wat bely en erken net U is God, Here, getuig ons van waar ons wortels in U lê. U het die Eksodus-geslag uit Egipte bevry en deur die see laat trek. Deur vuur en water het U geslag-op-geslag gelei met u sterke hand en met liefdevolle deernis.

Dié herinneringe en verhaal wat ons identiteit bepaal, Here, wek my gees op om saam met geloofsgenote te sing van U wat lewe gee. U het my oë geopen vir die volke en almal op aarde. Ons mag niemand uitsluit van ons loflied aan U nie. Almal is genooi om te kom kyk.

Here, maak ons opreg wanneer ons juig tot U eer. Mag ons getuienis ander se harte omkeer om U te eer. Amen

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond

RCL JAAR C – AGTIENDE WEEK VAN KONINKRYKSTYD