Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
Search in posts
Search in pages
wpfc_sermon
wpfd_file

Ek loop onlangs hierdie mooi woorde van ‘n vriendin, Anel, op sosiale media raak:

ALTYDDAAR
As my trane soos poele bly lê
As ek net die 1000 stukke van my
hart terug wil hê

Dan…

Dan staan jy voor my deur met jou
sagte woorde
Luister ore
En ‘n siel wat my hart verstaan

As my kop met my hart baklei
En my woorde soos vuurpyle
Uit my mond gly

Dan…

Dan vermaak jy my met jou
menswees
Hou jy my veilig met ‘n terggees

Jy is my konstante – my “Altyddaar”

 – Anel Olivier

Haar woorde laat my gedagtes op ver paaie loop. Wie is die een wie altyd daar is? Wie is die een wat my laat lag met ‘n traan, die een wie my altyd met luiterende ore begroet?

Toe vra ek haar: “Wie is vir jou altyd daar?”

Sy het geskryf oor haar sussie wat regtig in sonskyn en reën, goed of kwaad, lag of huil daar is vir haar. Maar ek vertel later meer oor hierdie.

Ons eie lewe het ‘n interessante omwenteling gemaak en vir die volgende twee en ‘n half maande is ek 1200km ver van my gesin af. Ek mis atletiek, ek mis krieket, ek mis nagsê soentjies en wakkerword drukkies. Ek mis oggend koffie saam met Mamma op die stoep en fliek aande op Saterdae. Ek mis grappies luister op die radio oppad skooltoe en selfs kosblikke pak. Ons is nou ook ‘n Facetime gesin en ek ken elke emoji op Whatsapp.

Tussen die verlange deur, moes ek soek na wat ek veronderstel is om te doen met al hierdie tyd wat ek op my eie spandeer.  Miskien is jy ook daar? Dele van jou gesin wat ver is, of selfs nie meer daar is nie.

Ons vriendin, Anel, se eerste ‘altyddaar’ skree nou vir die Bulle uit die hemel. My vriend, my kinders se peetpa, die een met die lag uit sy maag, bulder nie meer in die gange of op die rugbyveld nie. “Doppies” se stem is al vir 4 jaar stil hier by ons. Sy moes ‘n ander ‘altyddaar’ kry. So toe ek haar woorde lees en so bitter ver van my mense is, het ek regtig net gewens dat ek my ‘altyddaar’ ‘n bietjie kan vashou.

Ons almal smag na daardie iemand wat daar kan wees. ‘n Mens waarmee jy kontak kan maak op ‘n fisiese, emosionele of geestelike vlak.  Daar is ’n goue lyntjie van verbinding tussen alles in die Skepping. Eers noudat ek ver is, besef ek weer die erns daarvan.

Jesus verstaan hierdie kontak en die altyd daar wees. Jesus is die kontak en die altyd daar.

Hy is so bewus van God se nabyheid dat Hy aan die kruis, rou en seer en weerloos praat: “My God, My God, waarom het U my verlaat?” Daardie gevoel en besef dat ek nou op my eie is, alleen, sonder ondersteuning, ken Jesus. Juis hieroor, maak Sy woorde soveel meer sin wanneer Hy die uitnodiging maak:

“Kom na My toe almal wat uitgeput en oorlaai is, en ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, julle sal rus kry vir julle gemoed.” Matteus 11:28-29

Ons weet dat ons toevlug by Hom is, dat ons enige dag en nag, net in Sy teenwoordigheid kan sit en net wees. Die krag en energie wat ek daar aan Sy voete beleef, is onbeskryflik en dit is net genade. Die Gees is in my, by my, om my, elke oomblik van my lewe, as ek weerloos by Hom sit.

Somtyds smag ek wel ook na daai fisiese kontak. Ek smag na die tergende gelag en iemand wat saam trane afvee. Somtyds wil ek net iemand hoor asem haal hier neffens my, saam ‘n koffie deel terwyl ons die wêreld se probleme oplos. Hoewel ek as persoon soms kliphard met God praat, smag ek soms na iemand wat kliphard kan terugpraat, in die hitte van die oomblik. Ek soek iemand wat my fisies kan vashou sonder om ‘n enkele woord te opper.

As ons stil word en mooi dink, het ons elkeen sulke mense en moet ons moeite doen om hulle te koester, tyd met hulle te spandeer en te verseker hulle voel geliefd.

Elkeen van ons moet iemand kry, as ons nie het nie, wat ons “Altyddaar” mense is en wil wees. Wees eerlik met jouself. Jesus werk ook deur mense, Hy gebruik mense om Sy nabyheid weer te bevestig. Gedurende daardie oomblikke wat “my kop met my hart baklei”, dit is die moeilike tye. My hart weet dat Hy altyd daar is, maar my kop is al ewig besig om vrae te vra. Vrae wat my laat twyfel en laat glo dat Hy nie naby is nie, want ek kan Hom mos nie sien nie. Waar is Hy? Hoekom is Hy so stil? Hoekom moet ek weer so eensaam voel, so alleen?

Ek sit vanaand weer en lees en dink en praat, alles met myself. Dit is 23:00 en die strate is stil, hier en daar blaf ‘n hond. Ek kan haar nie nou bel nie, sy slaap al. Ek kan nie soene op voorkoppies gee nie, hulle is net te ver. My ‘altyddaar’ mense is nie bereikbaar nie, maar HY is. Jesus is hier neffens my en glo dit as jy wil, ek kan Hom voel. Daar is nie vel teen vel nie, daar is nie hoorbare woorde nie, maar Hy is daar.

Hy is my konstante.

Hy is altyd daar en Hy gee my rus tot in my gemoed. Hy het belowe Hy sal my nooit verlaat of los nie, Hy staan terug en gee my spasie, maar nooit hoef ek soos Jesus benoud te vra waarom het Hy my verlaat nie. My gesin en my mense kan ek wel voel, vel teen vel en hoor huil en lag. Nou is hulle ver, maar altyd weet ek:

Hy is my konstante,

Hy is my “altyddaar”.

 

Geskryf deur Wynand Olivier