LUKAS 16:19-31 (2020-vertaling)
Lukas 16 bestaan uit twee dele (verse 1-13, 14-31). Albei sluit ’n gelykenis in wat begin met die woorde: “Daar was ’n ryk man…” (verse 1, 19). Jesus rig die gelykenis oor die ryk man en bedelaar in ons Skrifdeel aan die Fariseërs vir wie Lukas 16:14 as geldgierig beskryf. Hulle het geluister toe Jesus vir sy dissipels (16:1) die gelykenis van die oneerlike bestuurder vertel, maar het smalend oor Jesus gepraat. Die tema van besittings is een van Lukas se primêre fokusse (vgl. Luk 12:13-21; 12:32-34; 3:10-14; Hand 2:43-6:7). In ons gelykenis vertel Lukas hoe materiële besittings mense sosiaal van mekaar skei, asook hoe dit mense se gedrag teenoor mekaar bepaal. Die bedelaar het, anders as in ander Jesus-gelykenisse, ’n naam, terwyl die ryk man naamloos bly. Die naam Lasarus herinner aan die man vir wie Jesus uit die dood opgewek het (Joh 11:38-44). Dit is dalk nie direk relevant nie, maar skep tog ’n bepaalde interpretasie raamwerk.
Die gelykenis beskryf ’n toneel wat in ons tyd bekend is, naamlik sosiale omstandighede waarin mense gemeenskaplike ruimtes deel, in mekaar se teenwoordigheid leef, maar vanweë ekonomiese en ander sosiale oorwegings van mekaar geskei is. Waardes en strukture in die samelewing veroorsaak klowe tussen mense. Die gelykenis kontrasteer die ryk man se swierige lewe van feesviering en oorvloed met Lasarus se ellendige toestand en sy smagting na ’n stukkie afval kos van die ryk man se tafel. Die tema van kos en tafelgemeenskap as simbool van gemeenskap in Lukas se geskrifte, dui hier op uitsluiting. Ten spyte daarvan dat Lasarus ruimtelik naby die ryk man gelê het, is sy bestaan misken en sy nood deur die welgesteldes verontagsaam; uitgesluit van die tafel, maar honde was sy geselskap.
In die volgende beweging van die gelykenis sterf albei karakters. Die fiktiewe toneel verskuif na die hiernamaals, buite ons aardse bestaan. Jesus kontrasteer weer die situasie van die bedelaar teenoor die ryk man, maar met omgekeerde behandeling van die karakters. Die engele dra die bedelaar weg om teen die bors van Abraham te rus. Vir die Fariseërs sou dié verbintenis aan Abraham baie betekenisvol wees; ’n sosiaal uitgeworpene teen Abraham se bors. Oor die dood van die ryk man word bloot gesê hy het gesterf en is begrawe, waarskynlik met swier en feesviering op aarde. Die toneel verskuif na die bestemming van die karakters na hul dood. Die ryk man is in Hades waar hy gefolter is, maar sien in die verte vir Lasarus aan Abraham se bors. Die omstandighede het radikaal omgekeer. Die ryk man dors na ’n druppel water en dink hy kan Lasarus ontbied om hom te versorg in die vlamme.
In die verbeelde gesprek tussen Abraham en die ryk man in Jesus se gelykenis, korrigeer Abraham egter die ryk man se onkunde oor die aard van die bestemming van diegene wat hulle nie bekeer nie (vers 30): “…daar is ’n groot kloof tussen ons en julle gevestig…” (vers 26). Op aarde het die ryk man ’n kloof tussen hom en ander soos Lasarus gevestig. Hy het bepaal wie oor die kloof mag gaan en wanneer dit toelaatbaar is. In die hiernamaals geld die boodskap van Moses en die Profete as God se riglyn vir beoordeling van wie in God se ruimte ingesluit word en wie nie. Die finaliteit van Abraham se afwysing van die ryk man se versoek om iemand te stuur om sy broers te gaan waarsku, moes die Fariseërs oproep om hul eie leefwyse te ondersoek en hulle tot God te bekeer.
Abraham se woorde in vers 31 met verwysing na iemand wat uit die dood opstaan, laat mens tog dink aan Lasarus wat uit die ood opgewek is en as simbool van God se mag tussen mense geleef het. Hoekom sal dit nou anders wees met die ryk man se broers? Jesus verwys sekerlik ook na sy eie opstanding uit die dood wat voor die deur is. Herken die Fariseërs wat na die gelykenis luister, Hom as die Messias van God, ook vir Israel? En, hoe ernstig neem óns die geskrifte van die Ou Testament op, met die boodskap van die Nuwe Testament dat Jesus inderdaad uit die dood opgewek is?
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Sestiende Week van Koninkrykstyd – Jaar C