Jesus het Jerusalem binnegery op die rug van ’n donkie. Die mense het klere en palmtakke voor Hom op die pad neergelê, en: ‘Hulle het gesing: “Loof die Koning, Hy wat in die Naam van die Here kom! Vrede in die hemel en eer aan God in die hoogste hemel!”’ (Lukas 19:38)
Dit het die Fariseërs natuurlik grensloos geïrriteer, en hulle het hom beveel om sy volgelinge stil te maak. Jesus se antwoord hierop is baie interessant:
‘Maar Hy antwoord: “Ek sê vir julle: As hulle stilbly, sal die klippe uitroep.”’ Lukas 19:40
Daar is nog gedeeltes in die Bybel waar na klippe as getuies verwys word. Net voordat Josua oorlede is, het hy die volk laat belowe dat hulle getrou aan God se wet sal bly. Toe laat hy ’n groot klip regop staan, en waarsku dat die klip alles gehoor het (Jos. 24:26-27). Die profeet Habakuk verklaar dat selfs die klippe in die mure skreeu oor die boosheid van dié wat hulleself wou verryk ten koste van ander (Hab. 2:9-11).
Ek dink as die donkie waarop Jesus gery het kon praat, sou hy saam met die mense gesing het.
Op God se bevel, sorg die kraaie vir Elia. ’n Reuse vis sluk vir Jona in en spoeg hom na drie dae weer uit. ’n Groot skool visse maak die dissipels se nette vol. Die wind gaan lê. Die see maak oop. Die Jordaan dam op. Daar is vuur uit die hemel en ’n aarde wat oopskeur. Die son staan stil. Tyd draai terug. (1 Kon. 17:4; Jon. 1:17; Luk. 5:5-6; Mark. 4:39; Eks. 14:21; Jos. 3:15-16; 1 Kon. 18:38; Num. 26:10; Jos. 10:13; 2 Kon. 20:11)
Die skepping maak die Almag van die Skepper bekend. Dit is ’n getuienis waarteen ons geen verweer het nie.
Net so het die skepping ook geweet Wie dit is wat aan daardie kruis sterf. Vir drie ure lank – in die middel van die dag – het die son geweier om sy lig te gee. Die aarde het geskud en rotse het uitmekaar gebars.
‘Toe die offisier en die soldate wat saam met hom vir Jesus bewaak het, die aardbewing sien en die dinge wat gebeur, het hulle baie bang geword en gesê: “Hierdie man was werklik die Seun van God.”’ Matteus 27:54
Dit het ’n Romeinse offisier oortuig.
Kyk net om jou rond. Sien God se krag wanneer weerligstrale slaan. Beleef sy tere liefde in die oopvou van ’n roos.
En hoor hoe die klippe uitroep: “Loof die Koning, Hy wat in die Naam van die Here kom! Vrede in die hemel en eer aan God in die hoogste hemel!”
Geskryf deur Madeleine Venter