‘Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg.’ Jakobus 3:17 (eie klem)

Die Boodskap parafraseer bedagsaam in hierdie vers as volg: “… so ’n persoon is ook nie dwarstrekkerig en moeilik om mee saam te werk nie …”

Ons het as kinders geleer om bedagsaam op te tree. Daarom sê ons asseblief en dankie, groet ons ordentlik, en praat ons nie te hard nie. Maar bedagsaamheid is meer as net goeie maniere. Deur die profeet Miga, word ons aangemoedig om ook voor God bedagsaam te wees:

‘Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God.’ Miga 6:8

Beteken dit dat jy goeie maniere moet hê wanneer jy met God praat? Natuurlik sal jy met respek optree, maar in hierdie geval beteken die woord bedagsaam eerder nederig. Die meeste Engelse weergawes van die Bybel vertaal dit dan ook so, en die Amplified Bible brei hierop uit: “… setting aside any overblown sense of importance or self-righteousness …” Dit verduidelik die ware betekenis van bedagsaamheid eintlik baie mooi.

Om bedagsaam te wees, beteken dus dat jy nie só vol van jouself is dat jy nie omgee as jou optrede ander mense ongemaklik laat voel of selfs verneder nie. In die brief aan Titus, gee Paulus ’n paar riglyne oor Christelike gedrag, en noem hy o.a:

‘Hulle moet van niemand kwaadpraat nie en nie rusie soek nie. Hulle moet inskiklik wees en altyd bedagsaam teenoor almal.’ Titus 3:2

Nog ’n manier om bedagsaamheid uit te leef, is deur ander met respek te behandel. As Christene word ons aangemoedig om mekaar te respekteer, en op daardie manier ’n voorbeeld te stel:

‘Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld.’ Romeine 12:10

Wanneer jy ander met respek behandel, wil jy ook graag gerespekteer word. Hierdie respek kan jy juis verdien deur bedagsaam op te tree, soos wat Paulus aan die Tessalonisense verduidelik het:

‘Laat dit vir julle ‘n saak van eer wees om rustig te lewe, julle met julle eie sake besig te hou en self in julle lewensonderhoud te voorsien, soos ons dit aan julle voorgehou het. Dan sal julle eerbare leefwyse die agting van die mense buite die gemeente afdwing, en julle sal van niemand afhanklik wees nie.’ 1 Tessalonisense 4:11-12

Op die ou end kom dit alles neer op die beeld wat ons as Christene aan die wêreld oordra. Wanneer jy met Goddelike wysheid optree, sal hierdie beeld een wees van hoop en liefde.

Geskryf deur Madeleine Venter