‘“As julle vas, moet julle nie soos skynheiliges met lang gesigte rondloop nie. Hulle mismaak hulle gesigte sodat die mense kan sien dat hulle vas. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg. Nee, as jy vas, versorg jou hare en was jou gesig sodat niemand kan sien dat jy vas nie, behalwe jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.” ‘ Matteus 6:16-18

Baie gelowiges kies om vanaf Aswoensdag af vir die veertig dae tot en met Opstandingsdag te vas. Mense se keuses van wat hulle tydens hierdie tydperk opgee verskil. Dit kan enige iets wees van sosiale media, televisie, ’n slegte gewoonte, tot sekere kossoorte of drankies. Die idee agter Lydenstyd is om herinner te word aan die lyding wat Jesus Christus om ons onthalwe deurgemaak het.

Soms konsentreer ’n mens egter so op dít wat jy besig is om op te offer, dat jy skoon vergeet waarom jy dit in die eerste plek doen. Daarom wil ek hierdie week graag ’n baie eenvoudige, praktiese wenk deel wat jou kan help om ’n tydperk waarin gevas word werklik betekenisvol te maak.

Jy moet jou fokus doelbewus verplaas. Veronderstel jy het besluit om sosiale media of televisie op te gee, gebruik dan die tyd wat jy normaalweg daaraan sou spandeer om eerder te bid. As jy byvoorbeeld ’n sekere kossoort of drankie opgegee het, kan jy elke keer wanneer jy lus word daarvoor, bid.

Die geheim is dus om die tyd wat jy sou spandeer het aan wat dit ook al  is wat jy opoffer, te vervang met tyd saam met God. Of, om ’n begeerte na daardie iets, te gebruik as ’n herinnering daaraan om te bid.

‘Die genade van God wat verlossing bring, het immers aan alle mense verskyn. Dit voed ons op om die goddelose leefwyse en wêreldse begeerlikhede te laat vaar en met selfbeheersing, opregtheid en godsvrug in die teenswoordige wêreld te lewe’ Titus 2:11-12

Gebruik hierdie Lydenstyd om te onthou hoe wonderlik groot God se genade is wat Hy in Christus aan ons bewys het. En selfs al vas jy nie, maak steeds tyd vir introspeksie en sondebeleidenis. Gaan sit opnuut weer by Jesus se voete en hoor wat Hy jou wil leer.

As volgelinge van Christus, moet ons altyd daarna streef om met selfbeheersing, opregtheid en godsvrug te lewe. Lydenstyd is die ideale geleentheid om met toegewydheid hierdie eienskappe weer aan te vuur.

 

Geskryf na Madeleine Venter