‘Bo alles, wees versigtig met wat in jou hart aangaan. Wat jy dink, bepaal alles wat jy doen.’ Spreuke 4:23
Jy is gees, siel en liggaam (1 Tes. 5:23). Jou siel is jou emosies en gedagtes, en dit is dáár waar alles begin. Die keuses wat jy maak begin met ’n gedagte of ’n emosie. Elke keuse het ’n aksie tot gevolg. En elke aksie bepaal die rigting waarin jou lewe gaan.
Dit is geen wonder dat die wyse koning Salomo ons gewaarsku het om versigtig te wees met wat in ons harte aangaan nie.
Bly jy vasgevang in sondige gewoontes? Is dit vir jou moeilik om produktief te wees? Sukkel jy om gesonde verhoudings te handhaaf?
Jou aksies sal slegs verander wanneer jou hart verander. Daarom se die Here in Esegiël 36:26:
‘Ek gee julle ’n nuwe hart met die regte begeertes en ’n nuwe gees. Ek vat die ou hart van sonde weg en gee julle ’n nuwe, gehoorsame hart .’ Esegiël 36:26
Jy het egter steeds ’n verantwoordelikheid om te waak oor dít wat in jou hart aangaan. Moenie plek maak vir bitterheid, vyandigheid of woede nie. Vul eerder jou hart en gedagtes met liefde en dankbaarheid.
Dit is makliker gesê as gedaan, maar probeer om siniese, negatiewe en ekstreme inhoud te vermy – of dit nou nuusberigte of vriende se uitgangspunte is. Daardie video’s wat jy kyk, die profiele wat jy op sosiale netwerke volg, die woorde wat jy hoor, net mooi alles wat deur jou sintuie waargeneem word, gaan lê in jou gedagtes en speel ’n rol in wie en wat jy op die ou end word.
Vul eerder jou hart en gedagtes met God se Woord. Spandeer tyd in die natuur en waardeer die skoonheid van die skepping. Omring jouself met mense wat ’n gesonde uitkyk op die lewe het.
Dit wat in jou hart aangaan, het ewigheidswaarde. Dit het ’n impak op die mense rondom jou en op toekomstige geslagte.
Wat in jou hart aangaan, kan bepaal of jy jou skeppingsdoel gaan uitleef of nie.
Maak hierdie week tyd daarvoor om jou hart en gedagtes te ondersoek. Neem beheer en kies watter gedagtes jy gaan toelaat om wortel te skiet. Word stil voor die Here en vra soos Dawid:
‘Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad!’ Psalm 139:23-24
Geskryf deur Madeleine Venter