‘Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges. Bid ook vir my dat wanneer ek preek, God my die woorde gee dat ek die geheimenis van die evangelie met vrymoedigheid kan bekend maak.’ Efesiërs 6:18-19

Christenskap is nie ’n one-man-show nie. As dit was, sou ons nie nodig gehad het om vir mekaar te bid nie, en sou Paulus ook nie gevra het dat daar selfs vir hom gebid moet word nie.

Jesus het die voorbeeld gestel deur vir sy volgelinge te bid. (Joh. 17:20-21) En Paulus het ook gedurig vir medegelowiges gebid. (Filemon.1:4; Ef. 3:16; Fil. 1:9)

In Galasiërs skryf hy:

‘Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus.’ Galasiërs 6:2

Om vir iemand te bid is ’n onselfsugtige liefdesdaad. Deur vir ’n oomblik van jou eie probleme te vergeet, en by die Vader vir iemand anders in te tree, gee jy erkenning aan jou medemens se behoeftes.

Wanneer jy vir iemand bid, is dit omdat jy glo dat daar niks is wat daardie persoon van God se liefde kan skei nie. Hy is baie liewer vir hom of haar as wat jy ooit sal kan wees. (Rom. 8:38-39)

Ons bid ook vir ander omdat ons glo dat daar krag in gebed is. Ons mag in Jesus se Naam voor die genadetroon van God kniel en ons geliefdes aan Hom opdra. In sy brief, sê Jakobus dat die siekes gesalf en voor gebid moet word. Dan voeg hy by:

‘En as hulle gelowig bid, sal dit vir die sieke genesing bring: die Here sal hom gesond maak. As hy gesondig het, sal dit hom vergewe word. Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking.’ Jakobus 5:15-16

Die gebed van ’n gelowige het ’n kragtige uitwerking. Wanneer ’n paar gelowiges egter saamstem in gebed, sê Jesus, verdubbel hierdie krag:

‘Verder verseker Ek julle: As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry,’ Matteus 18:19

Moet daarom nie skaam wees om te vra dat ander gelowiges saam met jou bid nie. Maak ook gebruik van geleenthede waar jy gebedsversoeke kan rig.

Maak van vandag af ’n punt daarvan om, wanneer die Heilige Gees dit op jou hart druk, met vrymoedigheid en in geloof vir ander te bid.

 

Geskryf deur Madeleine Venter