Dit is vroeg-oggend, ek is op en besig om paaseiers in ‘n sak te gooi, want ons moet vandag dit wegsteek vir die kinders. Die oggend is vars, amper ‘n koeligheid in die lug. Terwyl ek eiers versamel in die huis, dink ek aan die term “Goeie Vrydag”. Ek kon dit al vir 49 jaar nie lekker verstaan nie. Ek weet Jesus het gesterf en Hy het gely en is geboelie en gemartel en het gesterf. Daarom is daar niks goed aan die dag vir my nie. Ek sukkel om hierdie dag te vier. Vir my is Opstandingsondag van Paasfees ‘n groter dag, want as Hy nie die dood oorwin het nie, was ons nou nog dood.
Ek verstaan die gebeure van Vrydag maar jitte daar was niks goed aan daai dag nie. So stap ek met die paaseiers op die stoep uit. Eintlik wou ek al lankal gaan swem oefen het, maar my liefste vrou met haar simboliek het my planne in die wiele gery. Miskien as ek vinning eiers rondgooi kan ek nog bydie swem uitkom. Maar getrou aan Swellendam begin dit toe nog reën ook. Ok geen swem vir my nie!
By die stoephekkie sny die draad my vinger dat my dun bloed spat en die vervlakste eiers is nogsteeds nie weggesteek nie. Ek sit met oortuiging, verdwaalde geduld en ‘n paar swets woorde my tog voort. Onder die geelhoutboom loop ‘n spoor wat die buurman se klomp katte elke aand loop om op ons stoep op die bank te kom slaap. Daar is ‘n stuk of ses van hulle en ons klomp praat baie kere hard met mekaar. Die katte en ons Belgium Shephard is ‘n vet en vuur kombinasie.
Van kombinasies gepraat – die kronkelpad onder die boom, my bloedspoor en die tjoklit-eiers het my baie laat wonder.
Kan hierdie die paashaas se spore wees? Bloei die paashaas ooit? Waaraan word hy blootgestel op sy avonture? Het Hansie en Grietjie se broodkrummels op die kronkelpad in die woud, dalk soos hierdie eiers gelyk? Dit was hulle redding, want hulle kon die pad huistoe kry.
Die reën val nou harder en ek loop terug stoep toe. Soos ek loop sien ek hoe die bloed, my bloed, deur die water afgewas word van die sak in my hand – op die grond drup, verdun en dan verdwyn. Vir ‘n oomblik staan ek stil en kyk aandagtig na hierdie prentjie in my regterhand. Ek haal nog ‘n eier uit, sit hom onder die Bonzai en sien dit weer. Ek bloei, die eier is met bloed besmeer en dan was die water dit weg!
Jesus, dankie dat jy met jou bloed vir my die pad gewys het. Dankie dat my spore in jou bloed kan wees, dat my bloed saam met jou bloed op jou skouers kon wees daardie aaklige Vrydag buite Jerusalem, tussen moordenaars. Dankie dat my bloed nooit weer hoef te vloei nie, dat ek nooit gemartel hoef te word nie.
Ek weet die paashaas bestaan nie en ek weet Hansie en Grietjie se storie is net ‘n fabel en dan nog oorspronklik ‘n bangmaak storie ook. Maar ek beleef dat paasfees deesdae iets tussen ‘n fabel en ‘n skattejag na die kronkelpad tuis geword het. Wanneer ek op my deurmekaarste is, soek ek die “eiers” wat die pad aanwys, want ek het so seer, ek bloei en weet nie hoe om die bloed te stop nie. As ek mooi kyk is dit toe nie die haas se bloedspoor nie, dit is my eie bloed waarin ek loop, dit is my spoor!
Ek besef dat die “paaseiers” my eie beloning geword het. Ek moet vir myself iets soets uitsit, sodat die lewe nie so bitter is nie. Ek moet die versekering kry dat ek my pad terug sal vind na myself en die plek waar ek wil wees, want ek moet myself red, myself beskerm. Ek het vergeet van die water wat skoon was, die water wat my bloed afwas en laat verdwyn.
Dit is vir my wat Jesus dit gedoen het aan die kruis. Hy het my lewe, my bloed op Hom geneem en dit van my weggevat in die see gegooi en Hy dink nooit weer daaraan nie. Ek het verlossing deur Hom wie die dood, die bloed van sonde afgewas het met Sy eie bloed!
Die lewe bestaan uit keuses, goeie keuses en minder goeie keuses. Elkeen van ons kan net verantwoordelik gehou word vir die keuses wat onsself gemaak het. Die gemors is dat die keuse wat ek maak, ‘n invloed het op mense wie deel van my lewe is. Die kronkelpad van my lewe, kruis die kronkelpad van ander mense se lewens. Daarom moet die “krummels”, die “eiers” wat ek uitpak om die pad te merk, van so aard wees dat dit ander ook kan help. Hoe meer ek sit en wonder, hoe duideliker word dit dat daar net een pad huistoe is. Dit is die kronkelpad deur die digte bos, die bos van vrees, donkerte, seer, afguns, haat, ook bekend as die bos van die lewe, hier en nou.
Die bloed wat ons op die kronkelpad sien, is inderdaad die bloed van Jesus. Soos wat Hy saam met ons loop. Hy laat ons toe om die kronkelpad te stap – soms verward, soms soekend na ‘n haas wat nie bestaan nie, soms bloot soekend na ‘n soeter oplossing of ‘n ander rigting.
Elvis Blue sing met soveel oortuiging dat…
“Ek en jy is gemaak om spore te los.”
Die “eiers” en “krummels” wat ons los, moet wees:
“Liefde, vreugde, vrede, Geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.”
Met hierdie bakens versteek op die kronkelpad, sal ek, en meeste ander, die nou paadjie uit die bos vind. Ek sal die huis weer kry, daar waar ek veilig by die warm vuur kan sit terwyl ek ‘n warm koppie “liefde” opslurp. En as ek mooi kyk sien ek hoe die skoon water van genade, my bebloede stukkende hande en voete, skoon was!
Ek kan nie te lank voor die vuur sit nie, want ek het nodig om op die kronkelpad van die lewe te wees, om te struikel, te val, te bloei. Ek het nodig om versteekte eiers te soek, maar ek het ook nodig om merkers te los, sodat ek en elkeen wie hierdie pad loop, die nou kronkelpad na die Vader se huis sal kan vind.
Wat is die merkers wat jy los?
Hoe lyk jou spore?
“Ons is ook gemaak om te verdwaal, om soms verkeerde paaie te loop sodat ons by die paaseiers van liefde kan bykom. Eiers wat skoon gewas is deur die reën van Sy genade, want hulle is die merkers wat die pad uit die Bos wys.”
– Wynand Olivier