´n Blou Maandag kan jou laat voel asof jy spreekwoordelik ´n trappie mis getrap het. ´n Onverwagse slegte begin vir ´n werksweek – na die welgeluksalige gevoel van naweek. Eensklaps lyk jou goeie beplanning nie meer so rooskleurig nie. Weg is jou glimlag en die huppel in jou stap. Vrydag (en selfs Dinsdag) lyk skielik baie ver.
Daar kan natuurlik legio redes vir ´n slegte Maandag, of enige dag, wees. ´n Siek kind of troeteldier, verkeersknope, onmin binne jou huwelik of familie of ´n splinternuwe oorlog wat opnuut ons vrede en toekoms vertroebel. Dit steel jou vreugde en vrede. Dit maak mens bang. Om die nuutste terugslag net maar te oorleef, is skielik die hoofoorweging.
Ons kort ´n “survival kit” vir Blou Maandae en ander druk dae. ´n Klein sakpas stelletjie wat jy kan uitpluk en oopmaak om die probleem op te los of ten minste aan te spreek. ´n Paar stukkies gereedskap wat jou kan help om weer in beheer te voel. ´n Hupstoot vir hulpeloosheid.
Dit help dalk om te onthou dat hierdie gevoel van hulpeloosheid nie ´n nuwe of moderne probleem is nie. Terugslae en swaarkry is so oud soos die mensdom self. En dus kan ´n paar waarhede en beginsels uit die lewens van Bybelkarakters ons selfs vandag help om onsself, en ander, moed in te praat.
Onthou die waarde van ´n voedsame maaltyd. Die verhaal van Elia onder die besembos het my nog altyd diep geraak. ´n Mens sou seker verwag dat die profeet na sy ervaring by Karmelberg vir ´n leerskare sou kans sien, en tog is dit nie wat gebeur nie. Hy gaan lê onder ´n besembos omdat hy eintlik vir niks meer kans sien nie. Wanneer die engel hom daar wakker skud, is dit nie met woorde van aanmoediging of ´n ligte vermaning nie. Die engel gee vir hom iets om te eet. Soms maak iets basies, soos ´n lekker maaltyd met liefde en omgee vir jouself of ander berei, ´n reuse verskil.
Gebruik wat jy het, waar jy is. Moses het net sy staf in sy hand gehad. Die weduwee van Sarfat het nog net ´n bietjie meel en olie oorgehad, en ´n klein seuntjie het vyf broodjies en twee vissies beskikbaar gehad terwyl die berghange rondom hom gewemel het van die mense. En tog was hulle bereid om dit te gee. Saam met die oorvloedige genade van die Here was dit genoeg. Dit was nie nodig om meer te soek of bymekaar te maak nie. Dit wat hulle kon gee, kon die krisis oorkom. Soms moet ons net die volgende tree gee en in verwagting lewe dat dit genoeg is vir nou.
Tel jou seëninge. Dit sou seker my laaste gedagte wees as ek die nag onregverdig in ´n tronksel moes deurbring, maar dit was die eerste gedagte wat by Paulus en Silas opgekom het. Kom ons sing! Hulle het sekerlik nie verwag dat God hulle lofprysing so daadwerklik sou antwoord nie. Hulle wou mekaar bloot maar herinner hoe groot God is en dat hulle nooit alleen is nie. Maar dit bly waar: ´n dankbare hart help ons om God se grootheid raak te sien en sy wonderdade eerstehands te ervaar.
Bou ´n ondersteuningsnetwerk. Toe Jesus in die Tuin van Getsemane was, het Hy sy dissipels saamgeneem om saam met Hom te bid. Jesus het hulle nie regtig nodig gehad nie. Hy het tog geweet dat die Vader engele sou stuur om Hom by te staan. Ek glo eerder dat Jesus hiermee ook vir sy dissipels wou leer dat ons mekaar nodig het en moet onthou in tye van swaarkry.
Hierdie stukkies wysheid gaan nie groot probleme dadelik oplos nie. En dit gaan verseker nie probleme laat verdwyn nie. Maar dit kan die hart en gesindheid verander waarmee ons dit aanpak. Dit kan ons moedig maak en ons help om ons fokus op God te hou. ´n Hupstoot vir hulpeloosheid. Sodat ons sal onthou Wie wel in beheer is.
Geskryf deur Susan Goosen