‘Terwyl Hy ‘n keer saam met hulle aan tafel was, het Hy hulle beveel: “Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader belowe het, soos julle van My gehoor het.’ Handelinge 1:4

Net voor Jesus se Hemelvaart, het Hy weereens sy dissipels daaraan herinner dat hulle die Heilige Gees sou ontvang – maar hulle moes daarvoor wag.

Niemand hou daarvan om te wag nie. En tog is wag so deel van die lewe soos asemhaal. Wanneer jy ’n saadjie in die grond druk, moet jy wag daarvoor om te ontkiem. Dan moet jy wag vir die plant om te groei, en selfs nog langer wag vir die oes om ryp te word. Dit sal jou niks baat om ongeduldig te raak en die saadjie weer uit te grawe, of op te hou om die plant water te gee omdat dit nie vinnig genoeg na jou sin groei nie.

As jy die vrug van jou arbeid wil geniet, moet jy wag tot die tyd daarvoor reg is.

Die dissipels het vir tien dae in Jerusalem gewag voordat iets gebeur het. Die rede daarvoor? Pinksterdag.

Dit was oorspronklik ’n Joodse fees, Shavuot, wat beteken ‘weke’ omdat die fees sewe weke na Paasfees gevier moes word. Tydens hierdie fees het duisende Jode na Jerusalem gereis om die eerste van hulle oeste aan God te wei. Daar is ook vasgestel dat dit die dag was waarop God die wet aan Moses gegee het. Dit was dus ’n dubbele feesviering gewees. (Lev. 23:9-16; Duet. 26:1-11) Ons lees uit Handelinge 2 dat daar Jode uit elke nasie onder die son in Jerusalem was.

Die uitstorting van die Heilige Gees moes plaasvind op die regte tyd. ’n Tyd waarin soveel as moontlik mense op een slag die Evangelie sou kon hoor. Na afloop van die fees het al hierdie mense teruggegaan na hulle huise toe en die boodskap met hulle saamgeneem. Al het almal dalk nie tot bekering gekom nie, sou hulle beslis vertel het van die wind, die vuurtonge en hoe vreemd dit was dat hulle die boodskap in hulle eie taal gehoor het.

Kan jy jou indink wat sou gebeur het as die dissipels ongeduldig geraak het en nie in Jerusalem bly wag het nie?

Miskien bevind jy jouself nou in ’n wagperiode. Hou moed en moenie ongeduldig raak nie. Wat moet gebeur, sal gebeur wanneer die tyd daarvoor reg is.

‘Wag dan geduldig, broers, totdat die Here kom. Let op hoe die boer wag vir die kosbare oes wat die land oplewer. Hy wag geduldig daarvoor totdat dit die vroeë en die laat reëns gekry het. Julle moet ook geduldig wag en moed hou, want dit is nie meer lank nie, dan kom die Here.’ Jakobus 5:7-8

 

Geskryf deur Madeleine Venter