Na aanleiding van Psalm 16 (lees 2020-vertaling)
Here, my gebed het gegroei uit die besef dat ek van U afhanklik is. In ons tydsgewrig van magskonflik en leierskap stryde voel ek ’n behoefte aan vertroue op U alleen. Magtige leiers mobiliseer ondersteuners en meelopers; eis erkenning vir hul groot suksesse.
My gedagtes duisel van al die aansprake op lojaliteit aan en erkenning vir die sogenaamde politieke voordele wat magtiges belowe, Here. In my hart is een bebegeerte en dit is na u onwankelbare betroubaarheid. U bied vir my skuilplek en wys die pad van ware lewe.
Here, U is soveel anders as die magtiges by wie mense hul vreugde gaan soek. U wys wat gebeur as mense op ander gode vertrou en hul heil soek in die verwaande beloftes van verganklike grootpraters met hul hartelose drang tot vernietiging. Ek kan hulle nie vertrou nie.
Die onsekerheid en ontwrigting wat magtiges veroorsaak, Here, het ironies genoeg positiewe uitkomste vir my verhouding met U. Die onbetroubaarheid van mense wat hul eie dade van onreg aanprys, stoot my af en
open my ore vir u raad, my oë vir u troue hulp aan my.
Here, die viering van Jesus se opstanding uit die dood met Paasfees, het my opnuut verseker van die enigste adres waar daar vir mense beskerming is in ’n wêreld wat ly aan betroubaarheid armoede. Net by U is daar vir my beskerming, Here, my erfdeel. By U skuil ek.
U het my deur dure ervaring dié waarheid geleer, dat daar buiten U niks goeds is nie, Here. Daarom kan ek U vertrou wanneer leiers mekaar uitdaag en die aarde in sy groewe begin skut. Ek bely dat U mý erfdeel is, soos U vir Levi was toe die Beloofde land verdeel is.
Here, ek vertrou my lewe aan U toe. Leer my om verder te wandel op die lewenspad wat U aanwys. Ek hou vas aan die versekering U sal nie toelaat dat u getroue volgelinge u teenwoordigheid ontbeer en gebrek ly aan die lieflikhede uit u regterhand nie. By U skuil ek!
Amen
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
RCL JAAR A – TWEEDE WEEK VAN PASE