LUKAS 23:33-43 (2020-vertaling)
Lukas se vertelling van Jesus se lang reis na Jerusalem (9:51-19:28) en die deel van sy aardse bediening in dié stad (19:29-21:38) voor sy gevangeneming en verhoor waar Pilatus Jesus ter dood veroordeel (23:25), bring ons by ’n geïdentifiseerde plek, met ’n naam, die adres waarheen Jesus al die tyd op pad was: “Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar gekruisig” (23:33). Die Revised Common Lectionary (RCL) plaas dié Skrifdeel (vers 33-43) op ons agenda vir die laaste Sondag van die Christelike Kalender; Sondag van Christus die Koning. Só vestig RCL ons bepeinsing oor en aanbidding van Jesus as Koning, binne die konteks van sy kruisiging.
Lukas interpreteer Jesus se kruisiging as sy kroning tot Koning en Here. Die tonele rondom Jesus se kruis, bevestig op talle maniere Hý is die Christus van God, die Uitverkorene (vers 35). Lukas getuig van Jesus se gestuurde roeping deur die Vader en bevestig sy identiteit as die Christus wat sondaars red van die dood en laat deel in God se koninkryk (vers 42-43). Lukas se vertelling maak ons deurentyd bewus van gesindhede by mense en hul reaksie op Jesus. Lukas open perspektiewe op die aard van Jesus se Koningskap en daag ons uit om wéér na Jesus te kyk en op sy appél tot ons te reageer.
Lukas stel ons vroeg bekend aan Jesus se mede-veroordeeldes (vers 33), maar keer eers later (vers 39-43) na hulle terug. Hulle was misdadigers, met Jesus se kruis tussen hulle opgerig. In vers 34 haal Lukas Jesus se gebed aan, waar Hy bid vir die mense wat Hom veroordeel en kruisig. Jesus se gebed onderstreep sy barmhartigheid en genade teenoor alle mense, asook die tema van vergifnis wat God se doel met Jesus se sending bevestig. Jesus het mens geword om sondaars wat nie weet wat hulle doen nie, te vergewe en hulle met die Vader in ’n herstelde verhouding te plaas. Selfs in Jesus se diep lyding aan die kruis, openbaar Hy sy barmhartigheid en vergewensgesindheid. Sien jy wie Jesus is?
Lukas vertel verder wat die soldate en die volk rondom die kruis gedoen het. Die soldate het Jesus se boklere verdeel deur loting. Dit verwys na Psalm 22:19 met die bedoeling dat die soldate se optrede en Jesus se vernedering in die Ou Testament voorsien is. Die houding van die volk, die Joodse burgers, word óók deur Lukas vermeld. Hulle was klaarblyklik magteloos-apaties; kon net staan en toekyk. En dan was daar die volksleiers met hul spot en smaad. Hulle het Jesus uitgedaag om vir Homself te doen waarvoor God Hom gestuur het. Kan Hy nou ook Homself red? Hy moet bewys dat Hy wel die Christus van God, die Uitverkorene, is (vers 35). Sien jy jouself tussen die mense rondom Jesus se kruis?
Die soldate het die geleentheid aangegryp om aan hul bestaan as keiser-volgelinge betekenis te gee met hul spot en vermaak. Hulle het Jesus suurwyn aangebied om te wys wat hulle van Hom dink, die sogenaamde koning van die Jode. Soos so dikwels gebeur wanneer ons die spot dryf, was die soldate onbewus van die dieper waarheid van hul spottende uitsprake. Eweneens het Pilatus nie die ironie besef van die woorde wat hy bo Jesus se kruis aangebring het nie: “Hy is die koning van die Jode” (vers 38). Die soldate het gedink Jesus is magteloos: “As jy die koning van die Jode is…!” En was Hy dit?
Dan kom Lukas terug na die twee misdadigers weerskante van Jesus aan die kruis. Hy ontbloot hul gesindhede teenoor Jesus en open perspektief op die uitkoms van hul onderskeie houdings. Die een het Jesus gelaster en uitgedaag om Homself en hulle te red. Hy verlang redding van Jesus, maar sonder geloof. Die ander een het ontsag vir God en getuig dat Jesus niks verkeerd gedoen het nie, terwyl hy en sy maat die straf verdien wat hulle opgelê is. Dié een ontvang genade om Jesus te herken as die Een wat red en God se koninkryk oopsluit. Jesus beloon sy afhanklike vertroue met die belofte om daardie dag reeds saam met Jesus by God te wees. Die Kopbeenplek word die deur na die paradys.
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Vier en Twintigste Week van Koninkrykstyd