MATTEUS 4:1-11 (2020-vertaling)
Lydenstyd in die Christelike Jaar is ten diepste ’n tyd vir selfondersoek, refleksie en wegdraai van verkeerde weë; ’n tyd vir terugkeer na God toe, terwyl die Here sy kinders bewus maak van sonde en opstand teen Hom in ons lewe. Dis die eerste week van Lydenstyd. Ons volg Matteus se vertelling van Jesus se gestuurde opdrag om die sonde van die wêreld weg te neem. Met die Revised Common Lectionary (RCL) herdenk ons God se verlossingsverhaal in Jesus Christus in aansluiting by die seisoene van die Christelike Jaar. So vier Christus se kerk jaarliks God se liefde vir die wêreld. Jaar A volg Matteus se weergawe van die evangelie van Jesus Christus. Ons herbesoek God se keuse vir die mensdom. Die Christelike Jaar bring mee dat RCL ons soms laat rondskuif binne Matteus se vertelling. Dié meditasie oor Matteus 4:1-11 gaan terug in die verhaal om Jesus se toetsing deur die versoeker in die woestyn (vers 2), hier aan die begin van Lydenstyd onder ons aandag te bring.
Ons Skrifdeel volg op Matteus se vertelling van Jesus se doop deur Johannes die Doper (3:13-17), wat die tema vir oordenking was vir die seisoen na Epifanie. Jesus, God se geliefde Seun (3:17), het sy doop deur Johannes gemotiveer as die manier waardeur Hy alle geregtigheid vervul (3:15). Die verhaal van Matteus 4:1-11 volg op die doop toneel en ontwikkel die temas van Jesus se Seunskap en sy realisering van Israel se hoop verder. Beide Jesus se doop en sy toetsing in die woestyn verteenwoordig kern momente in Jesus se voorbereiding vir sy openbare bediening in 4:12-23, wat RCL ook reeds na Epifanie vir oordenking aangebied het.
Geleerdes argumenteer dat Matteus altyd die Griekse woord wat as ‘versoeking’ vertaal is, in die betekenis van ‘toetsing’ gebruik. Satan het intensioneel gepoog om Jesus te oorreed tot afwykende optrede. Die fokus van die verhaal is op Jesus se toetsing van hoe Hy sy Messiaanse roeping as Seun van God verstaan en uitvoer. Dié toetsing-verhaal verteenwoordig ’n spesifieke beoordeling van Jesus se nuut-geopenbaarde (by sy doop) verhouding met God. Dit gaan hier dus oor die toetsing van God se Seun. Die verhaal toon hoe slinks die duiwel is en hoe hy selfs vir Jesus probeer oorreed om self ook vir God te toets oor die Vader se roeping vir sy Seun. Dit maak ons bewus van die aard van Jesus se lyding én van die uitdagings vir Christus se volgelinge. Satan laat niemand met rus nie.
Met Jesus se doop kondig die stem uit die hemele sy identiteit aan. Daar word Jesus se Seunskap en sy gehoorsaamheid aan sy Vader se wil eksplisiet verbind in Jesus se onderneming om alle geregtigheid te vervul. Die toetsing-verhaal verteenwoordig ’n selfs meer eksplisiete aanduiding van Jesus se definiëring van die aard van sy Seunskap, asook die aard van sy bediening. In Matteus se vertelling gebruik hy Ou-testamentiese verwysings as agtergrond om die verband tussen Jesus en Israel se verlede uit te lig. Jesus herleef Israel se woestyn ervarings, maar gee nie toe aan Satan se toetsing nie. Op dié wyse vervul én bevry Jesus in werklikheid dan Israel se geskiedenis van opstand teen God.
Die drie toetse wat Matteus in ons Skrifdeel beskryf verteenwoordig die toetsing van die waarheid en die betekenis van Jesus se Seunskap. Die versoeker bevraagteken die egtheid van Jesus se identiteit as Seun en probeer Hom oorreed om sy identiteit in wêreldse terme te bewys. Die versoeker gebruik selfs aanhalings uit die Skrif om Jesus te oortuig. Dit is egter juis Jesus se verweer teen die versoeker se strategie wat vir ons in Lydenstyd van belang is. Jesus fnuik die versoeker se aanslag met sy beroep op God se geopenbaarde wil: “Daar staan geskryf” (verse 4, 7, 10). Jesus is deur God geroep om elke woord uit God se mond te gehoordsaam. Jesus moes God se gesag erken en Hom nie versoek of toets oor sy wil vir die wêreld nie. Hy moet God alleen aanbid en dien. Daarin was Jesus gehoorsaam en getrou. Lydenstyd roep ons op om ons roeping tot navolging van Jesus opnuut te ondersoek.
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Eerste Week van Lydenstyd – Jaar A