Na aanleiding van Psalm 40:1-11 (lees 2020-vertaling)

Here, die nuwe Kalender jaar het reeds gevorder en bied geleentheid om dieper te peins oor ons lewe; hoe U daarin betrokke is. Die Christelike jaar bring ons by die tweede week na Epifanie, met die uitnodiging om oor u openbaringe in ons wêreld te besin – dit te herken en te erken.

Die psalmis gee ons ’n sleutel om oor u teenwoordigheid by ons te peins, Here. Hy getuig U het na hom afgebuig tot in die kern van sy swaarkry en worsteling met die lewe. U het u teenwoordigheid en troue liefde binne-in sy put van
verderf geopenbaar. U het hom aangeraak in diepe nood.

Here, wat U aan dié bidder in sy angs en nood geskenk het, roer sy binneste en verskerp die waarneming van sy sintuie. Hy besef en erken U het sy hulpgeroep gehoor waar hy uit sy put van verderf tot U geroep het. Hy weet verseker U het hom weer vasstrapplek gegee, nuwe lewe, ’n toekoms.

Die psalmis se getuienis dat U in die noutes van sy lewe opgedaag het, Here, en sy dankgebed vir die gawe van u reddende handeling om hom op te trek uit verdrukking, leer my en my geloofsgenote om u teenwoordigheid ook in ons leefwêreld te verwag en dit daarin raak te sien.

Omdat die gelowige bidder sy leefwêreld en die omkering van sy nood deur die bril van u troue liefde kon beoordeel, Here, het hy ook die gawe ontvang om dankbaar te wees. Die psalmis herken én erken U as bron van sy redding. Hy reageer met dankbetuiging wat U óók in sy hart geplant het.

Here, in die eerste drie weke van dié nuwe jaar, is ons land deur oorstromings en vernietigende brande geteister. In dié noodtoestand bid ons om u ontferming en redding uit die put van verwoesting wat die krag van die natuur tans vernietigend oor ons land laat spoel. Hoor ons hulpgeroep!

Ons vertrou op U vir uitkoms, Here. U het ons deur die gebed van die psalmis geleer om op U te bly wag, te smag na u hulp, te erken daar is niemand soos U nie, ons vertroue in alle omstandighede in U alleen te stel. Ons het ook geleer U wek die gawe van dankbaarheid in mense op. Daarom wil ons U dank.

Amen

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
RCL JAAR A – TWEEDE WEEK NA EPIFANIE