As hoërskoolkind het ek elke dag voor skool vir ’n paar minute by die kombuistafel koerant gelees. My daaglikse nuusoorsig in ’n neutedop. (My fokus was op die eerste drie bladsye, en die advertensies vir troeteldiere, alhoewel ek voor my siel geweet het dat ons nie ’n perd of ’n babahondjie gaan aanskaf nie.) Deesdae is dit nog makliker om op hoogte van sake te bly – ’n toepassing op my slimfoon gee kort-kort vir my nuusflitse. Geen ramp, tragedie, skade of skande gaan ongesiens verby nie, ek (ons) weet daarvan.
Dit beteken egter dat slegte nuus ons so byna agtervolg. Ons word daagliks (of uurliks) oorval deur nuus van geweld, vervolging, trauma, intense armoede en hongersnood uit alle wêrelddele. ’n Konstante herinnering dat ons in ’n vervalle wêreld woon – een waar sonde dikwels hoogty vier.
Op ’n onbewaakte oomblik piep jou selfoon en slaan iemand anders se hartseer soos ’n vuishou in jou maag. (Dit kon ek of my mense gewees het … Hoe het dit gebeur? Hoe kan ons sulke tragedies voorkom, onsself beveilig?) Of die onreg en skreiende skande laat jou bloeddruk styg. (Wat het hulle gedink? Het hulle hoegenaamd gedink? Hoe kon hulle!) Daar is al gesê dat hierdie beskikbaarheid van nuus tot verhoogde stresvlakke lei. ’n Paar dekades gelede was ver nuus immers, wel, ver. Jy was net bewus van dit wat in jou onmiddellike omgewing gebeur, daar waar jy kan uitreik, kan hand bysit. Nou het selfs die nood van mense in onbekende lande, ongemaklik naby aan ons gekom.
Natuurlik raak al hierdie nood ons nie direk nie. Dit is steeds die nood (of skandes) van ander. Onbekende mense se seerkry en swaarkry. Die kruis wat hulle moet dra. Maar die beelde van verslae mense, opgefrommelde motors, oproerige skares en afgebrande huise kan steeds by jou spook, jou magteloos en reddeloos laat voel. Aan die ander kant bestaan die gevaar dat ons afgestomp kan raak, eerder wegkyk, eerder op onsself en ons eie uitdagings fokus.
In plaas van skok, woede, paniek of apatie, kan ons ook ’n ander reaksie op hierdie stukkende wêreld kies – een wat Jesus in sy daaglikse doen en late baie goed gedemonstreer het. ’n Gevoel van deernis. Diep medelye. Ons lees in die Evangelies hoe dat Jesus gaan stilstaan het by oortreders en slagoffers: siek mense, uitgeworpenes, prostitute, sondaars. Hoe hulle lyding en hartseer nuus Hom geraak het. Hoe Hy na hulle uitgereik het, soms gehuil het, hulle aangeraak het, saam met hulle geёet het. Natuurlik het hulle dit nie noodwendig verdien nie. Net soos ons, het hulle dikwels oordeel, ’n koue skouer of dalk ’n goeie skrobbering, verdien. Maar dit is nie hoe Jesus gewerk het nie.
Deernis impliseer die vermoë om vir ’n oomblik in iemand anders se skoene te staan. Dit skuif die fokus weg van myself. In plaas van my eie moegheid, my irritasies, my frustrasies, my vrese en my behoeftes, sien ek die persoon wat voor my staan se gevoelens, se nood raak. Deernis sê: “Ek sien jou raak, ek is jammer. Ek verstaan. Ek wil graag help, vir jou bid. Dit gaan nie net oor my nie.”
Dit is natuurlik nie net traumaslagoffers wat ons deernis vra nie. Die kanse is goed dat verskeie mense wat vandag oor jou pad gaan kom, deernis gaan nodig hê. Huilerige kleuters, opstandige tieners, kort-af kollegas en onbekwame amptenare het almal deernis nodig. Natuurlik verdien hulle dit nie noodwendig nie. Hulle verdien waarskynlik eerder kritiek, ’n kras antwoord, ’n goeie skrobbering. Maar dit is nie hoe Jesus werk nie. En daarom moet dit ook nie ons manier van werk wees nie.
Die wonder hiervan is dat ’n deernisvolle hart ook die eienaar daarvan bevoordeel. Nie alleen maak dit die mense om jou se las ligter nie, maar dit help jou ook om met deernis na jouself en jou eie omstandighede te kyk. Wanneer jy na jou kwaai kind of knorrige buurman uitreik, hulle kan vergewe en vir hulle kan glimlag, leer jy terselfdertyd om met sagter oё na jouself en jou eie foute te kyk.
Ons moet ons reaksies kies. Want die stukkende wêreld rondom ons het baie liefde nodig. En deernis. En waar daar liefde is, en deernis, daar is die Heer.
Susan Goosen