‘Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here’ Romeine 6:23
Eendag gaan jy, saam met elke liewe mens wat nog ooit gelewe het, voor ’n groot wit troon staan vir die laaste oordeel. Op daardie dag gaan daar boeke oopgemaak word waarin al jou dade opgeskryf is.
Dan gaan daar ’n ander boek oopgemaak word: Die boek van die lewe. In hierdie boek staan die name van almal wat deur die Lam van God vrygekoop is. As jou naam nie hierin gevind word nie, sal jy die prys van sonde moet betaal. Dit is die tweede dood. (Op. 20:11-15)
Gelukkig is dit baie eenvoudig om jou naam in daardie boek te kry. Omdat dit menslik onmoontlik is om sonder enige sonde te leef, het Jesus daardie prys namens jou betaal. Al wat jy hoef te doen, is om dit te glo en Hom as jou Verlosser te aanvaar.
‘Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.’ Jesaja 53:4-5
Dit is waarom ons Paasfees vier. Dit is waaroor Goeie Vrydag gaan. Die Seun van God het jou sondeskuld namens jou betaal. Hy was die perfekte Paaslam. Die laaste offer wat nodig was, omdat die wet deur Hom vervul is. (Joh.1:29; Mat. 5:17) En toe het Hy die dood oorwin deur na drie dae weer op te staan. Hy lewe sodat jy kan lewe. (Joh. 11:25; Rom. 6:4)
‘Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God’ Efesiërs 1:7
Daar gaan ’n nuwe hemel en aarde wees. ’n Plek waar pyn en dood nie meer bestaan nie. ’n Stad wat verlig gaan wees deur God se teenwoordigheid. Dít is waar jy die ewigheid wil spandeer. Dít is waar jy gaan lewe al het jy gesterwe.
Besef opnuut in hierdie Paastyd wat Christus vir jou gedoen het, en maak seker jou naam staan in die boek van die Lam.
‘Niks onreins en niemand wat iets losbandigs en vals doen, sal ooit daarin kom nie, maar net dié wie se name in die boek van die lewe, die boek van die Lam geskrywe staan’ Openbaring 21:27
Geskryf deur Madeleine Venter