LUKAS 20:27-38 (2020-vertaling)
Lukas se vertelling oor Jesus se aardse bediening en doelgerigte reis na Jerusalem (19:51-19:28), bring ons met dié meditasie oor Lukas 20:27-38 in die laaste hoofdeel van die Evangelie. Jesus het Jerusalem bereik. Nou vertel Lukas van Jesus se bediening in Jerusalem gedurende die tyd wat sy finale lyding en dood aan die kruis op Golgota voorafgaan (19:29-21:38). Die Revised Common Lectionary plaas dié Skrifdeel in die derdelaaste week van die Kerkjaar. Dit bied verdere konteks vir Jesus se gesprek oor die opstanding op die tempelterrein (20:1) met Sadduseërs. Op weg na Sondag van Christus die Koning (23 Nov) en Eerste Advent (29 Nov) en daarna, word ons nadenke oor die opstanding uit die dood verryk deur perspektiewe op Jesus se doelgerigte beweging na sy kruisdood (Luk 23:46), sy Koningskap en ons afwagting op sy geboorte met die aanbreek van ’n nuwe Kerkjaar-siklus in Advent.
Veral twee sake in Lukas se vertelling oor Jesus se ontmoeting met sommige Sadduseërs (vers 27-38) het aandag getrek. Een, die teenwoordigheid van die Sadduseërs in die destydse Joodse samelewing. Tweedens, die hantering van Skrif gegewens deur die Sadduseërs en Jesus (ook Fariseërs en ander) in dié gesprek. Tot hiertoe was die Fariseërs deurentyd op die agtergrond en konfronterend in gesprek met Jesus. Nou, die enigste keer in dié Evangelie (Leon Morris), noem Lukas die Sadduseërs; een van die Joodse godsdienstige groepe, met streng konserwatiewe teologiese instelling. Die vraag oor die opstanding in ons Skrifdeel wys op hul teologiese opvattings. Jesus se reaksie op hul vraag en sommige skrifkenners se woorde (vers 39), toon dat Jesus oor dié teologiese kwessie nader aan die standpunt van die Fariseërs was. Die punt is die verskillende teologiese strome wat in groepe geformaliseer was.
Wat hul teologiese begronding betref, voer geleerdes aan dat die Sadduseërs slegs die Pentateug as heilige skrifte en gesagvol vir hul geloofsoortuigings aanvaar het. Morris bevraagteken dié algemene opvatting. Daar is wel bewyse dat hulle die mondelinge tradisie wat die Fariseërs as gesagvol aanvaar het, verwerp het. Die Sadduseërs het dus net die geskrewe bronne erken. Die Sadduseërs het die volledige leer oor lewe na die dood verwerp, asook enige beloning en oordeel na die dood. Dit is belangrik om kennis te neem van die bronne waarop die godsdienstige Jode van destyds hul geloofsoortuigings gevestig het. In ons Skrifdeel maak die verskil tussen die opvattinge van die Sadduseërs en die Fariseërs ons juis bewus van fundamentele aspekte vir die gesprekke en debatte waarby Christen gelowiges en kerke in ons tyd betrokke is en daaroor verskil. Dit is deurslaggewend om bewus te wees van die gesagsbronne waarop ons oortuigings rus.
Herkenning en erkenning van gesagsbronne is een kant van die munt. Maar hoe hanteer ons dié bronne? In hul gesprek met Jesus oor die opstanding, beroep die Sadduseërs hulle op Deuteronmium 25:5 omdat hulle die opstanding vanuit die perspektief van die Wet van Moses oor die Leviraatshuwelik benader. Hulle wil die leer oor die opstanding belaglik maak vanuit hul gesagsbron en die interpretasie daarvan met betrekking tot die huwelik tussen mense in dié lewe. Jesus antwoord die uitdagende Sadduseërs vanuit dieselfde gesagvolle skrifte, maar wel vanuit Eksodus 3:1-6. Daar verskyn God aan Moses in die braambos en identifiseer God Godself in verhouding tot Moses se voorvaders; die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob. God het die vaders as lewend beskou. Jesus onderskei tussen lewe in dié wêreld (huwelike) en God se toekomstige opstandingslewe.
Jesus se uitleg van die skrifte beklemtoon dat die lewe self, asook die waarheid van die opstanding, in God vestig. Deur geloof in Jesus Christus leef ons in God. God se werk in Jesus Christus is die grondslag van ons opstandingsgeloof. Volgens Lukas se teologie staan Jesus se leer oor die opstanding uit die dood, op Jesus se woorde én sy ervaring. Die Sadduseërs het moeite met die ervaring as geloofsbron.
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Twee en Twintigste Week van Koninkrykstyd