Ons weet dat die Bybel die kragtige Woord van God is.
‘My woord is soos vuur, sê die Here, soos ‘n hamer waarmee klippe stukkend gebreek word.’ Jeremia 23:29
Dat jy vandag een in jou hande kan hou, is egter nie sommerso vanselfsprekend nie.
Vir honderde jare, was die Bybel net in Latyns beskikbaar – en heeltemal ontoeganklik vir die man op straat.
Die priester, John Wycliffe, wou hierdie situasie verander, en het in 1382 die Bybel uit Latyns na Engels vertaal. Hou in gedagte dat hy nie die tegnologie gehad het wat ons vandag het nie. Nie eens ’n tikmasjien nie. Alles, die hele Bybel, het hy met die hand oorvertaal. Hierdie Bybel is egter verbrand, en veertig jaar na sy dood word Wycliffe se bene opgegrawe om ook verbrand te word.
In 1525, kom William Tyndale op die toneel. Hy vertaal die Nuwe Testament vanuit Grieks, maar kry nie toestemming om dit in Engeland uit te gee nie. Hy vlug dan na Duitsland, waar hy sy vertalings laat druk en insmokkel. In 1535, vertaal hy ’n gedeelte van die Ou Testament vanuit Hebreeus. Maar in 1536 word hy oorgelewer, en op ’n brandstapel tereggestel. Sy laaste gebed was dat God die koning van Engeland se oë sal oopmaak.
Sy gebed is verhoor. Slegs ’n jaar na sy dood gee Koning Henry VIII aan John Rogers toestemming om Tyndale se vertaling te gebruik as bron in ’n vertaling wat later bekend sou staan as ‘The Great Bible’.
Koningin Mary kom egter kort daarna aan bewind en verban alle protestantse Engelse vertalings. John Rogers se voorland is dan ook ’n brandstapel.
Dinge begin draai in die vroeë 1600’s onder Koning James I. Hy gee aan 54 geleerdes die opdrag om aan ’n Engelse vertaling, met o.a. Tyndale se werk as bron, te werk. In 1611 voltooi hulle wat ons vandag ken as die ‘King James Version’.
Hierdie is maar net ’n kort opsomming. Die storie van hoe ons die Bybel gekry het, is ’n komplekse storie oor die werklike stryd waarin baie mense met hulle lewens moes boet.
Om die Bybel na Afrikaans te kon vertaal, is ook ’n storie op sy eie. Afrikaans was ’n nuwe taal wat eers as skryftaal gevestig moes word. Spesifiek vir daardie doel, word die Genootskap van Regte Afrikaners in 1875 gestig. Na ’n behoorlik opdraande stryd, ontwikkel die taal tot so ’n mate dat die eerste Afrikaanse vertaling uiteindelik in 1933 verskyn – iets wat nie moontlik sou gewees het sonder mense soos Wycliffe en Tyndale nie.
En dan is dit ook nie so vanselfsprekend dat jy die vryheid het om enigsins ’n Bybel te mag besit nie. As jy jou vandag in Noord Korea bevind het, sou jy lewenslange tronkstraf of teregstelling in die gesig gestaar het oor daardie Boek in jou hand.
Mag jy dan nou elke dag besef watter groot voorreg dit is om ’n Bybel te kan besit. Bestudeer dit. Drink elke woord in. Leef dit uit.
Daardie Bybel in jou hand het ’n ver pad gekom.
Geskryf deur Madeleine Venter