MATTEUS 25:31-46 (Lees die 2020-vertaling)
In die laaste week van die Liturgiese Jaar, ná ‘Sondag van Christus die Koning’, bring Matteus ons by die finale deel van Jesus se vyfde en laaste diskoers (Matt 23-25) in sy vertelling van Jesus se verhaal. Volgens Bybel verklaarders is ons Skrifdeel nie ’n gelykenis as sodanig nie, maar eerder die voorstelling van nog ’n hemelse toneel wat ooreenstem met die toneel in hoofstuk 24. Wat Matteus hier beklemtoon en ‘Sondag van Christus die Koning’ aan die einde van die Liturgiese jaar vier, is dat Jesus verhoog en erken moet word as heerser oor die wêreld. Matteus 25:31-46 nooi ons nou uit om die manier waarop Jesus sy regverdige heerskappy uitoefen, waar te neem en getuies daarvan te wees. Op een vlak handel die toneel oor die ‘laaste oordeel’, terwyl die kriterium wat aangelê word vir die oordeel, die manier is waarop diegene wat geoordeel word “een van hierdie geringste broers en susters van My” (vers 40) behandel.
Die toneel vorm die klimaks van ’n lang diskoers waarin Jesus sy eie mense (Jode) veroordeel, in besonder hulle sogenaamde leiers, omdat hulle nie leef soos God se volk (gelowiges) behoort te leef nie. Jesus praat in dié lang diskoers oor sy eie komende verheerliking in ooreenstemming met die voorstelling in die Bybel van die erkenning (vindication) van die seun van die mens (Daniël 7). Binne dié konteks bied ons Skrifdeel ’n nuwe perspektief op een van die algemene interpretasies van die Jode oor God se komende oordeel van die wêreld. In stede daarvan dat die nasies geoordeel word oor hoe hulle Israel behandel het, soos sommige Joodse geskrifte verkondig het, verklaar Jesus met sy her-definiëring van God se volk (gelowiges, volgelinge) rondom Hom, dat Hy die wêreld sal oordeel volgens hoe hulle sy ‘nuwe’ Israel behandel het.
In die Bybel is die oordeel oor die nasies deel van die funksies van die verwagte Messias (vgl. Psalm 2:8-12). Die koning of Messias word ook dikwels voorgestel as herder (bv. Esegiël 34:23-24). Matteus se voorstelling van die laaste oordeel is op verskillende punte uniek en verkondig meer as die destyds bekende profetiese- en apokaliptiese visies oor die ‘dag van die Here’. Hier is die Seun van die Mens in die sentrum, beide as regter en as die een aan wie alle mense verantwoording sal doen ten einde as ‘geseënde’ (vers 34) deur Jesus verklaar te word. Tweedens beklemtoon Matteus se voorstelling dat ‘al die nasies’ geoordeel sal word, nie slegs die Heidene nie. Derdens is die kriterium van Jesus se beoordeling van die nasies, nié hulle optrede teenoor Israel, of selfs hul hantering van God se wet nie, maar wel hoe mense Jesus se “geringste broers en susters” in hierdie lewe behandel.
Verklaarders aanvaar die interpretasie dat die kriterium vir beoordeling nié ’n humanistiese empatie (kindness) vir behoeftiges in die algemeen is nie. Die kriterium is eerder die reaksie van die nasies op spesifiek die nood van Jesus se dissipels. Geleerdes verskil oor wie die “geringste broers en suster” is. Konsensus bestaan wel dat die verskillende beskouinge uiteindelik ooreenstem met betrekking tot die kriterium vir oordeel. Dit gaan nie oor blote filantropiese dade nie, maar inderdaad oor mense se reaksie op die koninkryk van die hemele, soos dit teenwoordig word in die persoon van Jesus se ‘broers en susters’. Soos in Matteus 7:21-23 is die finale maatstaf die vraag oor die nasies (mense) se verhouding met Jesus: “Nie elkeen wat vir My sê, ‘Here, Here,’ sal ingaan in die koninkryk van God nie, maar net diegene wat die wil doen van my Vader in die hemele” (Matt 7:21). Jesus gebruik die woord “broers” (en susters) spesifiek met verwysing na sy dissipels; enige broer van Jesus, hoe onbelangrik en gering ookal. Deur diens aan Jesus se dissipels word Jesus self gedien. Bediening aan Jesus se dissipels bepaal die kriterium vir Jesus se oordeel op die “Dag van die Here”, aangesien dit prakties aandui hoe mense op Jesus self reageer. Hierdie mens, die regverdige, sal weggaan na die eige lewe (vers 46).
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Ses en Twintigste week van Koninkrykstyd – Jaar A