Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
Search in posts
Search in pages
wpfc_sermon
wpfd_file

 

My kinders was kleintyd baie lief vir “soek die verskille” aktiwiteite. Nou nog, wanneer ons op een in ’n ou tydskrif afkom, skuif almal dadelik nader vir die uitdaging. Twee prentjies, met die eerste oogopslag identies, word onder of langs mekaar op dieselfde bladsy geplaas. By nadere ondersoek is daar egter klein verskille: op die een prentjie het die dogtertjie strikkies op haar skoene, terwyl dié stukkie detail op die ander prentjie weggelaat is. Hier is die hond se oor wit, terwyl dit op daardie prentjie ’n swart kol het. Die idee is dan dat jy fyn kyk om al hierdie verskille raak te sien en te merk. Ek moet eerlik wees: soms is dit so klein en onbeduidend dat dit my ook laat kopkrap. Maar dan is dit natuurlik heerlik om uiteindelik te kan sê: “Daarsy, ons het al tien!”

Ek kan nie eintlik onthou dat ons ooit vir ooreenkomste, eerder as verskille moes soek nie. Dalk is dit nie so voordelig vir die ontwikkeling van visuele vaardighede nie. Jy moet immers tussen fyn detail kan onderskei om byvoorbeeld te leer lees. Kyk hoe klein is die verskil tussen b, d en p, vir klein outjies wat nog nie hierdie letters ken nie. Indien jy nie tussen hierdie letters kan onderskei, en verstaan dat hulle verskillende klanke voorstel nie, gaan woorde en sinne by tye baie verwarrend wees. Ons moet dus kleintyd al ’n oog vir verskille ontwikkel.

Ek wonder egter of ons oё dalk te fyn ingestel is op verskille. Ek wonder of ons en ons kinders dalk eerder moet leer om by tye die verskille, wat ons so maklik raaksien, oor te sien, of selfs te ignoreer. Om byvoorbeeld die verskille tussen ons en ander mense raak te sien, kom so maklik, en soms so natuurlik. Ons praat so maklik van “ons” en “hulle”. Ons fokus so maklik op dit wat ander mense anders maak, dat ons alles wat ons in gemeen het, heeltemal uit die oog verloor.

Ek sien maklik raak wanneer mense hulle kinders anders grootmaak, anders eet, anders aantrek, of belangrike lewenskwessies uit ’n ander hoek benader (of glad nie as belangrik ag nie). Ek raak sommer omgekrap as dit wat vir my saak maak, en dit waaraan ek my tyd en energie bestee, oënskynlik glad nie op iemand anders se agenda is nie. Of as hulle te kere gaan oor iets wat, myns insiens, glad nie soveel bohaai verdien nie. Ek en hulle. Verskillend. Verdeeld.

Ek wil dus probeer om ’n ander bril as my “soek die verskille” bril op te sit. Minder krities wees. Ek wil eerder fokus op dit wat ons in gemeen het en dit wat ek en die verskeidenheid mense om my, moontlik langs dieselfde vuur kan laat sit. Daardie ma wat haar so blind hou vir haar kinders se foute, is dalk net so benoud soos ek dat ons kinders nie deur ander aanvaar en verstaan word nie. Eintlik kan ek haar hand ’n drukkie gee en simpatiek sê: “Dit verstaan ek so goed.” En die ouerpaar wat hulle kinders so gruwelik bederf, wil sekerlik, soos ons, ook saans gelukkige kinders met blink ogies in die bed sit, al verskil ons benadering tot die saak. Ek wil dit probeer verstaan. Ek wil meer gereeld tyd deurbring saam met iemand wat anders kuier, hulle kos anders gaarmaak en in ’n ander taal oor ander grappies lag. Ek wil doelbewus gaan soek vir daardie oomblik wat ek kan sê: “Ek voel ook so.”

En wat van diegene wat hulle geloof so anders beleef en uitleef, wie se uitlatings, rituele, gewoontes en seksuele oriëntasie so baie van myne verskil? Miskien kan ek iets anders van God se grootheid leer wanneer ek eerlik bereid is om te hoor hoe ander Hom hoor en Hom ervaar.  Miskien sal ek ander se worsteling, hulle vrese, hulle vreugdes en drome beter verstaan indien ek besef dat dit op baie vlakke met myne ooreenstem.

Want ten spyte van al die verskille wat met die eerste oogopslag so duidelik, soms so skreiend is, is daar tog fundamentele ooreenkomste. Ons het almal gesondig, en het nie vanself deel aan die heerlikheid van God nie. Ons word, sonder dat ons dit verdien, net op grond van God se groot genade, van hierdie sondige bestaan verlos. Ons almal staan bakhand en skuldig voor God. En die lig en seën wat ons in ons eie lewens ervaar, is nie deur eie toedoen nie. God se genade verenig ons, oor taal en kulturele grense heen. Dit bring hoop vir verhoudings.

 

Susan Goosen