‘Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.’ Galasiërs 5:25
Die evangelis, J.I. Packer, het gesê: “The Holy Spirit’s main ministry is not to give thrills but to create in us Christlike character.”
Ons kry die woord Christen van die Griekse woord Christianós wat vertaal kan word as: “Volgelinge van Christus.” [i] In die tyd wat hierdie naam eerste aan die gelowiges in Antiogië gegee is, was dit ’n algemene gebruik om sulke benamings aan sekere groepe mense te gee afhangende van wié hulle aanhang.[ii] M.a.w. ons sou die woord Christen ook kon definieer as diegene wat Christus se leer aanhang. (Hand. 11:26)
Wanneer jy iemand volg en so ’n persoon se leer aanhang, beteken dit dat jy poog om soos daardie persoon te wees. Jesus was egter nie sommer maar net nog ’n leermeester nie. Hy is God self. Dit is dus ’n amper onmoontlike taak om soos Hy te probeer wees.
Dit is waarom die Heilige Gees uitgestort is. Die Gees is God self wat binne jou woon. (1 Kor. 6:19; Rom. 8:9; 1 Joh. 4:13)
Nog ’n aanhaling wat ek graag wil deel, is deur Corrie Ten Boom: “Trying to do the Lord’s work in your own strength is the most confusing, exhausting, and tedious of all work. But when you are filled with the Holy Spirit, then the ministry of Jesus just flows out of you.”
Die Heilige Gees rus jou toe met krag en Geestelike gawes. Hy leer jou, en herinner jou aan alles wat Jesus geleer het. Hy is jou trooster, en Hy help jou om te bid. (2 Tim. 1:7; Rom. 12:6-7; Rom. 8:26; Joh. 14:26; 2 Kor. 1:4)
Dit is egter nie al wat Hy doen nie. Hy verander jou ook. Wanneer jy jou lewe deur die Heilige Gees laat beheer, tree jy anders op, soos wat Paulus in Galasiërs 5 verduidelik:
‘Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie … Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie. ‘ Galasiërs 5:16; 22-23
Jy is nie aan jou eie lot oorgelaat nie. Die Heilige Gees woon in jou, en al wat jy hoef te doen is om Hom toe te laat om beheer oor jou lewe te neem sodat jy vir ander kan wys wie Jesus is.
[i] https://www.blueletterbible.org/lexicon/g5546/kjv/tr/0-1/
[ii] https://www.gotquestions.org/meaning-of-Christian.html
Geskryf deur Madeleine Venter