Gebed na aanleiding van Psalm 112 (lees 2020-vertaling)
Here, vandag gooi die psalmis sy gebedsfokus op die tema van menswees in ’n wêreld waar geloof in U en die praktiese lewe van elke dag, teen mekaar druk. Ons samelewing vertoon daagliks diep
klowe tussen wat mense met die mond sê en dan met hul dade weerspreek. Wat vra U van ons?
Die psalmis wys vir ons ’n pad met sy halleluja, van wat ’n wyse lewe met ontsag vir U, vir mense inhou, Here. Daar ís ’n manier van lewe wat geluksaligheid inhou. Daar ís ’n modus van wysheid wat ’n mens
keuses laat maak en besluite laat neem, juis omdat daar vreugde is in u voorskrifte vir die lewe.
Dit is om dié kategorie wysheid en lewenskuns wat ek vir myself, geloofsgenote en landsgenote by U in gebed kom pleit, Here. Die haat, vyandskap, afguns, liefdeloosheid en selfsug wat kenmerkend van ons
lewe en wêreld geword het, wurg die laaste bietjie asem uit ons vermoeide liggame en stukkende siele.
Here, leer ons u lewenskuns en wek weer in my en my generasie die begeerte na U. Skep in ons ’n dors na ware geluk, vreugde en ’n geseënde bestaan. Ons het ouer geword en sien wat van die wêreld geword
het terwyl ons aan diens was. Ons is bekommerd oor ons nageslag en hulle leefwyse. Durf ons iets sê?
Dankie vir die psalmis en sy geloofsgenote wat vir ons ’n wysheidslied nagelaat het om te leer van u lewenskuns, Here. Dankie dat U ons weer bewus maak van ontsag vir U en van vreugde in u gebooie. Dankie dat
U ons herinner aan u geregtigheid wat vir altyd stand hou, u lig wat skyn vir opregtes.
Ons wêreld lyk soos dit lyk, Here, omdat ons geslag nie u beeld waarna ons geskape is, geïnternaliseer het en vertoon nie. Maar, ons hoor die psalmis se wysheid oor u lewenskuns; wat u genadige, barmhartige en regverdige karakter vertoon. Dit gaan goed met ’n mens wat goedhartig is en uitleen, wat sy sake eerlik bestuur.
Here, ek wil dié mens wees wat geluk in U vind.
Amen
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond