Na aanleiding van Psalm 86 (lees 2020-vertaling)
Here, vir vandag se geprek met U, sluit ek aan by die Psalmis se begeerte na ontsag vir u Naam en om U altyd te eer. Ons Afrikaanse vertaling het twee sterk uitdrukkings om die bidder se verlangende ontsag vir
u Naam te beskryf: ‘heelhartig’ en ‘met my hele hart’.
Wat wou dié bidder met sy verlange na heelhartigheid aan U kommunikeer, Here? Die beweging in sy gebed vanaf ’n beroep op u sorg, na sy belydenis oor u troue liefde tot by ’n smeekbede uit nood en lof vir u wonders, wek by my ’n besef van volle afhanklikheid van U.
Here, die Psalmis se woorde ‘heelhartigheid’ en ‘met my hele hart’, weerkaats die idee van omvattendheid én ’n bepaalde gesindheid by die bidder. Dit herinner my aan nog perspektiewe wat dié uitdrukkings oproep;
heelheid in die sin van welstand én doelgedrigtheid.
Ek onthou hoe A.A. van Ruler heelhartigheid verstaan as samebinding van alle aspekte van ons lewe, teenoor die verspreiding of versnippering van ons ingesteldheid. Here, dikwels laat ons omstandighede toe om ons fokus van U af te trek en ons harte aan ander te verkwansel.
Soos met die Psalmis, Here, gebeur dit te maklik dat ons harte vasgegryp word deur vermeteles en geweldenaars, wat ons afhanklikheid van U vertroebel. In plaas daarvan om in alle omstandighede slegs op U te vertrou, met die hele hart, versprei buite invloede ons hart se toewyding.
Dankie, Here, dat U ons u pad wys en ons in u waarheid lei. Die ervaring van die lewe het my geleer ek kan net op een manier in u waarheid leef; in algehele oorgawe aan U met ’n onverdeelde hart wat op niks en niemand anders staat maak vir verlossing uit elke vorm van nood nie.
Here, wek in my ’n onverdeelde hart en algehele oorgawe aan U, wat barmhartig en genadig, geduldig en oorvloedig is in troue liefde en waarheid.
Amen
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
RCL JAAR A – AGSTE WEEK VAN KONINKRYKSTYD