“We think we will impress people with our strengths, but we connect with people through our vulnerabilities.”
Hierdie stelling is ´n ongemaklike waarheid.
Indien ons self ons stories kon skryf, en die held in ons eie verhaal kon definieer, sou ons tog sekerlik kwaliteite en eienskappe wou kies wat die kollig steel. ´n Held wat deur ander bewonder word en heimlik met afguns bejeën. Dit is tog lekker om te praat oor prestasies, daardie doelwit wat bereik is of die toekenning wat al die harde werk die moeite werd gemaak het. Wie wil nou doelbewus probleme kies? Wie kies om ´n leergestremdheid, ´n rebelse tiener, bankrotskap of ´n egskeiding deel van hulle verhaal te maak? En wie wil dit nou aan die groot klok hang? Wie wil spog en vertel van alles wat skeef geloop het, van teleurstellings en van terugslae?
Dit is nie lekker om oor ons swakhede te praat en dit aan ander te erken nie. Dit stel ons bloot. Dit maak ons swak en weerloos, ontbloot vir ander se menings en kritiek.
En tog is dit juis hierdie swak plekke in ons monderings, die hartseer of die uithou en aanhou verhale wat tot ander se harte spreek. Dit gee ons inspraak in ander se lewens. En dit gee aan God die geleentheid om iets moois, iets nuuts en iets goeds uit ons swaarkry te laat spruit. Dit bou karakter en gee diepte aan ons stories.
Paulus sou eintlik kon kies om die held in sy eie verhaal te wees. Hy het immers ´n indrukwekkende CV gehad – ´n lys wat selfs die skrifgeleerdes en kerkleiers kon beïndruk. Sy stamboom, familie, opvoeding, werksondervinding, wetsgehoorsaamheid en werkywer was alles bo verdenking. En nadat hy tot bekering gekom het, het hy verskeie gevare en uitdagings trotseer om die evangelie te versprei en gemeentes te stig en te ondersteun. Dit klink beslis asof hy by meer as een geleentheid in aanmerking kon kom vir die een of ander toekenning.
Maar vir Paulus was hierdie lys prestasies waardeloos – hoegenaamd nie iets waarop hy hom wou roem nie. Hy het trouens doelbewus gekies om dit nie te doen nie. “As ek swak is, is ek sterk,” skryf hy aan die gemeente in Korinte. Daarom het Paulus verkies om oor die swak plekke in sy mondering te spog. Die knaende doring in sy vlees, waarvan hy maar net nie verlossing kon kry nie, het hom herinner hoe klein hy is, en hoe groot en almagtig God is.
“My genade is vir jou genoeg,” het die Here vir Paulus gesê. Daarom was ´n goeie CV en indrukwekkende werksondervinding nie belangrik nie. Paulus skryf: “Daarom sal ek eerder oor my swakhede spog sodat die krag van Christus voortdurend in my kan werk. Ek is tevrede met my swakhede, beledigings, ontberings, vervolgings en benoudheid ter wille van Christus. Wanneer ek swak is, juis dan is ek sterk.” Dit is dus hierdie verhale, en nie dis sukses stories nie, wat Paulus met ander gedeel het.
Dié dinge wat ander as belangrik en ´n wins beskou, het Paulus as verlies gereken. Om Jesus te ken en ´n instrument in sy hand te wees, was vir Paulus so belangrik dat niks anders regtig saak gemaak het nie.
Uiteindelik is ons nie die held in ons eie verhaal nie. Wat ons het, is net genade, en wat ons het, is net geleen. “God, die Vader van ons Here Jesus Christus, word geprys! Hy is die Vader van barmhartigheid en die God wat in elke opsig bemoedig. In al ons swaarkry bemoedig Hy ons. Hy doen dit sodat ons ook in staat sal wees om mense in hulle swaarkry by te staan met dieselfde bemoediging waarmee God ons versterk.”
Hy is die Koning en die Held in ons verhaal.