Hierdie vyf woorde is die inleiding tot seker die bekendste Psalm in die Bybel: Psalm 23. ´n Teks waarna oud en jonk gryp wanneer die lewe te veel raak. Wanneer ons gekonfronteer word met oorlog, siektes, die dood of ander dinge wat bokant ons begrip en verstand is, wil ons immers graag ´n Herder hê. Iemand wat beheer kan neem en ons deur die dal van doodskaduwee na groen weivelde en waters van rus kan lei. ´n Vertroude stok en staf wat ons veilig sal hou. En ´n feesmaal waarna ons kan uitsien.
Die Bybel het wonderlike verwysings na ´n herder-kudde verhouding. Die skape wat aan hierdie kudde behoort, ken die Herder se stem. Hulle weet wanneer dit Hy is wat roep. En Hy ken hulle – individueel. Hy ken elkeen op die naam. Wanneer een skaap weg is, weet die Herder dit, en hy gaan soek hom. Hy ontsien geen moeite om sy skape te versorg, hulle te beskerm en vir hulle die beste weiding te gee nie. Meer nog: hierdie Herder is bereid om selfs sy lewe vir sy skape op te offer. So, sê die Here in Esegiël, sal sy volk besef dat Hy God, die oppermagtige Here is.
Soms, sê die Here, stel Hy ons ook as herders, of versorgers, van ´n kudde aan. Ons moet soms kan leiding neem. Om ´n herder te wees, was in die tyd van die Bybel een van die minderwaardigste beroepe. Herders, of skaapwagters, was gewoonlik mense met geen kwalifikasie nie, diegene wat regtig nie veel anders kon doen nie. In groot gesinne was dit die werk van die jongste kind, soos wat ons in die verhaal van Dawid sien. As herders moet ons nederig en in die skadu van die groot Herder loop. In die woorde van Pope Francis: “Take care of those entrusted to you. The shepherd should smell of the sheep.”
Die teendeel is natuurlik ook waar. Indien ons graag die versorging en koestering van die Herder wil ervaar, beteken dit dat ons met skape assosieer, en dit is soms ´n ongemaklike gedagte.
Skape word beslis nie as die slimste, sterkste of mooiste diere in die diereryk beskou nie. Hulle is trouens maar aan die dom kant. Dit blyk dat hulle ook koppig is, en baie selfsugtig ingestel is op hulle eie behoeftes. Daar is byvoorbeeld ´n siekte, genaamd enterotoxemia, wat veroorsaak word deur skape se gulsigheid en geneigdheid om heeltemal te ooreet wanneer die geleentheid hom voordoen.
Hulle versorging vra harde werk. Skape is geneig om ´n leier blindelings te volg, maak nie saak hoe gevaarlik dit is nie. Hierdie kudde mentaliteit is ook in ons geskiedenis – ons stories – sigbaar. Voorts is hulle ook baie geneig om af te dwaal. Sonder om te dink of die gevolge te oorweeg, sal ´n skaap eenvoudig agter sy neus aanloop totdat hy stokalleen en heeltemal verdwaal is. En dan is hy heeltemal uitgelewer. Want skape het geen natuurlike beskermingsmeganisme nie. Hulle het nie ´n plan B nie. Hulle is totaal en al hulpeloos. Skape kan op geen manier self uit ´n verknorsing kom nie. ´n Goeie en toegewyde herder, is hulle enigste hoop.
Om te erken en te besef dat ons ook soos skape is, en dat ons eintlik heeltemal van ons Herder afhanklik is, vra ´n nederige kopskuif. Ons sal maklik net soos ´n trop skape die verkeerde leier volg. Ons is dikwels koppig en ingestel op ons eie behoeftes. En dit is nie maklik om dit te bely nie.
Gelukkig ken ons die Goeie Herder. Die Een wat sy lammers bymekaar maak in sy arms en naby sy hart dra. Wanneer ons tot Hom nader, en sy stem leer ken, sal Hy ons inderdaad lei op die paaie van geregtigheid, tot die eer van sy Naam. Ons sal by sy feesmaal aansit. Dit is goed om in sy kudde te wees, en in sy weivelde te wei. Ons kan saam met Dawid getuig: “Die Here is my herder; ek kom regtig niks kort nie.”
Geskryf deur Susan Goosen