Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
Search in posts
Search in pages
wpfc_sermon
wpfd_file

‘Toe het God gesê: “Laat daar lig wees!” En daar was lig.’ Genesis 1:3

In die tyd van Jeremia, was daar ’n groot probleem met vals profete gewees. Die volk was in ballingskap, en om elke hoek en draai was daar iemand wat blykbaar ’n woord vanaf die Here ontvang het. Hulle het oor visioene gepraat wat hulle self uitgedink het, en op daardie manier vals verwagtinge by die mense geskep. (Jer. 23:16)

Die Here het hierdie vals profete baie skerp veroordeel, en die rede daarvoor is eintlik heel voor die hand liggend: God se Woord is nie iets wat mens sommer ligtelik opneem nie. Wanneer Hy praat, gebeur daar dinge. (Jer. 21-40)

In Jesaja 55:10-11 sê Hy:

‘Die reën en die sneeu kom uit die hemel uit en dit gaan nie daarheen terug nie maar deurweek die aarde en laat die plante bot en vrugte dra, sodat daar saad is om te saai en brood om te eet. So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees: dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het.’

Ons weet dat Jesus baie wonderwerke verrig het deur bloot net te praat. Hy het o.a. die wind en die see aangespreek, vir die melaatse man gesê: “Word gesond!” en vir die siek man by die bad van Betesda beveel om op te staan, sy goed op te tel en te loop. Hy’t gepraat, en dinge het gebeur. (Mat. 8:26; Luk 5:13; Joh. 5:8)

Dit is geen wonder dat die Romeinse offisier daarvan oortuig was dat Jesus maar net ’n woord kon sê vir sy slaaf om gesond te word nie (Mat. 8:8).

Daar is vandag steeds krag in God se woorde.

Hy praat met jou deur die Bybel, en die Heilige Gees lei jou daarin om die boodskap reg te interpreteer. Hierdie woorde van God is ‘n swaard wat jy kan opneem as deel van jou wapenrusting teen geestelike aanslae. (2 Tim. 3:16; Joh. 16:13; Ef. 6:10-17)

Die vraag is egter, hoe goed ken jy hierdie swaard? ’n Wapen is nie veel werd as mens nie weet hoe om dit te gebruik nie.

Deesdae kan mens nie eintlik meer die verskoning gebruik dat jy nie tyd het vir Bybel lees nie. Daar is heelwat toeps wat jy kan aflaai waarop jy die Bybel kan lees terwyl jy miskien in ’n wagkamer sit, of na luister terwyl jy werk toe ry.

Probeer om in hierdie week die kragtige woorde van God deel te maak van jou alledaagse bestaan deur ten minste elke dag een Skrifgedeelte te bestudeer, daaroor na te dink, en dan toe te pas in jou lewe.

‘Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart.’ Hebreërs 4:12

Geskryf deur Madeleine Venter