Na aanleiding van Psalm 65 (lees 2020-vertaling)

Here, kan ’n mens dikwels genoeg opgeroep word om U te dank en daaraan herinner te word om aan U lof toe te bring? Ek dink nie iemand behoort u kinders werklik ooit aan te moedig om U te loof en dankbaar te leef oor al u ontsagwekkende dade as God wat gebede verhoor nie.

Die Psalmis getuig U bedek ons oortredings en verlos ons. Here, dis U wat berge vestig met krag en die gedreun van die groot seë met mag stilmaak. Die aardse bewoners het ontsag vir die tekens van u skeppende teenwoordigheid. Nee, ons móét dit raaksien en U dankbaar daarvoor eer.

Here, ek is oortuig die mees getroue lewenshouding vir u gelowige kinders, is om ons ontsag vir u dade lofprysend te bewys met toewyding en aanbidding. Gee dat u kinders fyn sal waarneem wat U in ons wêreld doen. Laat ons nie ons plek in die onderhouding van lewe misverstaan nie.

Die Psalmis verseker ons U sien om na die land met nodige water op die regte tyd, Here. U laat gewasse blom en laat vee aanteel. U voorsien voeding en almal kan floreer. Tog, selfs mense wat dankbaar erken U gee lewe in oorvloed, handel soms asof hulle self die land en natuur beheer.

Here, dit is dié misplaaste oordeel oor die mens se plek in die orde van u skepping, wat my na U toe stoot. Die beelde waarmee die Psalmis beskryf hoe U na die land omsien, die grond voorberei, sorg vir gewasse en reën vir groei, maak my bewus van ons menslike eiewaan.

Dat U die mens gemaak het as kroon van u skepping, word ons motivering vir selfvoldane aansprake dat mense self en eiemagtig kan funksioneer. Ons dink tegnologie en kennis plaas ons in beheer, asof leivore en ploegbanke u sorg en voorsiening kan vervang. Maak ons tog nederiger, Here.

Daar is ’n derde aspek by die erkenning van u grootse dade en dat U na die land omsien, Here. Indien ons wel u hand in alles raaksien, toegee U kroon die goeie jaar en u spore drup van vettigheid, leer ons dan ook om sorgsaam met die land en natuur om te gaan. Maak ons u sorgsame rentmeesters.

Dankie dat U die aarde versorg, Here. Ek loof U met my lewe!

Amen

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
RCL JAAR A – SEWENDE WEEK VAN KONINKRYKSTYD