Na aanleiding van Psalm 15 (lees 2020-vertaling)

Here. Ek daag dikwels sommer maar net op waar u gelowige kinders byeenkom om U te aanbid. Ja, om met U gemeenskap te hê. Vandag brand ’n verlange na gemeenskap met U en u kinders in my hart. Maar… ek wonder of ek welkom is.

Die 2020 Afrikaanse vertaling van die Bybel het die beeld van ’n gas wat by U tuisgaan; toegelaat word om in u heilige teenwoordigheid te vertoef. The Message vertaling ontwikkel dié beeld en vra: “Wie word uitgenooi na ’n maaltyd in u woning?”

Dit is juis dié vraag wat in my binneste roer as u Gees my aanraak op weg na U toe, om U te aanbid. Hoe behoort ek voor te berei om in u teenwoordigheid te mag kom? Aan watter vereistes moet ek voldoen om u gastelys te haal?

Here, ons mense steur ons nogal baie aan die sosiale gebruike rondom gasvryheid. Ons weet hoe selektief mense omgaan met gastelyste en hul keuses oor wie vir watter geleentheid genooi word, om op grond daarvan as ’n gas verwelkom te word.

Ek voel skaam, Here, dat ek al dikwels sondermeer aanvaar het ek is ingesluit op u gastelys en mag dit in die ruimte van u heilige teenwoordiheid waag. Die psalmis se karakterskets laat my nog meer onwaardig voel. Durf ek tot U nader, Here?

Die psalmis se vraag oor wie ’n gas mag wees in u tent, Here, leer my egter van eerlike self-ondersoek wanneer ek oorweeg om in u gasvryheid te deel. U verwag immers van u kinders onberispelike optrede in die gemeenskap én in die openbare lewe.

Here, ek weet ek mis die merk in my lewe tussen mense en voor u aangesig. Ek struikel gereeld in my daaglikse doen en late tussen mense. Ontvang my asseblief in u teenwoordigheid as u genooide gas en leer my lewe vanuit ons ontmoeting op u heilige berg.

Amen

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond

RCL JAAR A – VIERDE WEEK NA EPIFANIE