Na aanleiding van Psalm 118:1-2, 15-24 (lees 2020-vertaling)
Here, die herdenking van Lydenstyd en viering van Paasfees die afgelope Sondag, laat my opnuut dink oor die paradoksale aard van ons geloof in Christus Jesus. Die psalm se oproep om God te prys versterk die kontras tussen dood en lewe as ons geloofsgoed.
Ek is verwonderd oor die woorde van dié psalm wat u verbondsvolk sou sing nadat hulle die ontberings van die ballingskap moes trotseer, Here. Om vas te hou aan God se troue liefde wanneer jou leefruimte
daarteen skree, maak nie logies sin nie. En tog…
Here, geleerdes verklaar dat dié psalm deel was van die gelowige Jode se viering van die Pasga. Hulle sou dit sing en mekaar herinner aan hoe U die Israeliete uit slawerny bevry het. Dié psalm het Israel die dade
van u regterhand laat herleef, ten spyte van…
Op Goeie Vrydag en met Paasfees het mense wat vir U ontsag het, Here, in aanbidding vergader met die gelowige verstaan Christus is die klip deur die bouers afgekeur, maar vir U is Hy die hoeksteen. Die psalmis
roep tot lof, al neig ons mense om Jesus af te keur.
Here, die onverstaanbaarheid van u troue liefde, ruk aan my gees. Terwyl U ons ernstig teregwys, gee U ons wat die dood verdien, nie daaraan oor nie. Nee, U verseker ons van lewe. U wek in ons ’n begeerte om
te vertel van die dade van die Here; u hoë regterhand.
Omdat U aan ons lewe skenk, Here, ons toegang gee deur die oop poorte na geregtigheid, kon regverdiges weer Paasfees vier. Ons kon saam kniel voor die kruis en lofprysend jubel oor die leë graf van Christus, want dit is die herinneringsdag wat U gemaak het.
Paradoksaal: Christus het opgestaan. U het my/ons nie aan die dood oorgegee nie. Ons juig en is verheug in U!
Amen
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
RCL JAAR A – WEEK NA PAASFEES