LUKAS 19:1-7 (2020-vertaling)
Ons mediteer oor ’n Lukas storie, wat nie by ander Evangelies voorkom nie. Al die Sinoptici vertel wel Jesus het op pad na Jerusalem deur Jerigo gegaan. Hoofstuk 19 vertel die gelykenis van ’n muntstuk (vers 11-28), van Jesus se intog in Jerusalem (vers 29-44) en reiniging van die Tempel (vers 45-48). Die konteks is Jesus se reis na Jerusalem (9:51-19:28). In ons Skrifdeel ontmoet Jesus ’n persoon. Hy het ’n naam en pertinente beroep. Vers 1 beskryf die toneel in terme van plek en handeling. Jesus het Jerigo binnegegaan en deur die stad gestap. Hy was aan die beweeg, met sy bestemming anderkant Jerigo. Jesus het pas (18:31) ’n derde keer (vgl. 9:22; 9:44) sy lyding aangekondig: “Kyk, ons gaan op na Jerusalem, en alles wat deur profete oor die Seun van die mens geskryf is, sal vervul word”.
Kort voordat Jesus Jerigo binnegegaan het, het Hy gaan staan en aan ’n blinde man wat langs die pad gesit het aandag gegee (18:35-43). Die man het gehoor Jesus en sy geselskap gaan verby en het om Jesus se ontferming geroep. Jesus het gaan staan, opdrag gegee om die man na Hom te bring en vir die blinde gevra: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” Die man se behoefte was om te kan sien: “Jesus het vir hom gesê: ‘Sien weer! Jou geloof het jou gered.’ En onmiddellik kon hy sien. Hy het Jesus gevolg en God geprys. Die hele volk wat dit gesien het, het God geloof” (18:42-43, 2020-vertaling).
In ons Skrifdeel trek nog ’n persoon langs die pad Jesus se aandag, dalk verrassend: “En kyk, daar was ’n man…” (2020-vertaling). Die persoon word in detail beskryf. Sy naam was Saggeus, iemand met gesag; ’n hooftollenaar en ’n ryk man. Registreer die kontras met die naamlose blinde man buite Jerigo wat moes bedel vir ’n bestaan. Die blinde het gehoor Jesus beweeg verby, terwyl Saggeus probeer om Jesus te sien. Soos die blinde, kon Saggeus ook nie vir Jesus sien nie, as gevolg van twee beperkinge: hy was kort/klein van gestalte en die skare het Jesus vir hom verhul. Saggeus wou sien ‘wie’ Jesus is. Hy het net van Jesus gehoor, maar die blinde het geweet Jesus is die Seun van Dawid (18:38, 39).
In vers 4 word ’n wildevyeboom ’n plek van ontmoeting, terwyl Jesus doelgerig na Jerusalem beweeg. Jesus het by die plek waar Saggeus was opgekyk en met hom gepraat (vers 5). Verrassend noem Jesus Saggeus op sy naam, beveel hom om uit die boom te klim en kondig aan Hy moet by Saggeus se huis oorbly; ’n afspraak (vandag) met ’n persoon en ’n adres (jou huis), en Jesus op pad na sy bestemming.
Vers 6 beskryf Saggeus se reaksie op Jesus se interaksie en opdrag. Hy het inderdaad vinnig uit die boom geklim om Jesus te ontvang, met blydskap, net soos die blinde Jesus gevolg en God geprys het (18:43). Saggeus se blydskap is nie deur almal gedeel soos in die geval van die blinde nie. Toe het die hele volk wat dit gesien het, God geloof (18:43). Lukas beskryf die reaksie van die mense in vers 7. ‘Almal’ wat gesien het wat Jesus doen, het afkeurend en veroordelend reageer. Hulle het beswaar gemaak. Volgens hulle was Saggeus ’n sondige man. Jesus behoort nie by hom in te gaan as gas nie.
In vers 8 doen Saggeus skuldbelydenis voor Jesus en erken hy het ander afgepers. Hy spreek sy voorneme uit om restitusie te doen teenoor armes en diegene van wie hy iets afgepers het. Hy maak in die openbaar sy intensie bekend om ’n nuwe lewe te lei. Dan volg Jesus se genade aankondiging en kwytskelding van Saggeus se sonde. Weer ’n spesifieke tydsaanduiding (vandag) en plek (Saggeus se huis): “Vandag het daar verlossing vir hierdie huis gekom, want ook hy is ’n seun van Abraham”. Jesus kondig redding vir Saggeus aan en bevestig sy nuwe identiteit in Christus as geloofs nageslag van Abraham (vers 9).
In vers 10 bevestig Jesus sy eie identiteit en sy gestuurde roeping na hierdie wêreld, om dié wat verlore is te soek en te red. Jesus sien menses raak en red enige mens, selfs dié vir wie ons graag sou wou uitsluit. Dissipelskap begin met die ontvangs van Jesus in ons hart en vra ’n getransformeerde lewe.
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Een en Twintigste Week van Koninkrykstyd – Jaar C