Deur die eeue heen het adellikes en ander hooggeplaastes mense gehuur om kos en drinkgoed te proe om seker te maak dat dit nie giftig is nie. Ook nie sonder rede nie: die Romeinse Keiser Claudius is vermoedelik in 54 AC vergiftig (selfs al het hy ´n kosproewer gehad) en Koningin Durdhara van die Maurya-ryk is klaarblyklik dood nadat sy kos geëet het wat vir haar man bedoel was. Adolf Hitler se kosproewer, Margot Wölk, (en 14 ander jong vroue) het elke oggend sy kos getoets. Indien hulle na ´n sekere tyd nie siek geword het nie, is die kos as veilig bestempel en is dit na sy militêre hoofkwartier gestuur. Deesdae word diere soos muise ook soms ingespan om te kyk of kos veilig is vir menslike gebruik. En ja, kosproewers is steeds deel van sommige regeerders se sekuriteitspanne.
Kleintyd was dit vir my kinders groot pret om kos te proe wanneer hulle geblinddoek was. (Gif was darem nie hier te sprake nie.) Soms was dit om te raai wat die kos is, en ander kere het ons spesifiek probeer om soet, sout, bitter en suur te identifiseer. Dit was groot pret, en soms ´n lekker verrassing, om versigtig te proe en sonder die hulp van jou ander sintuie te raai wat jy eet.
Ons moet eintlik ook elke dag versigtig proe. Net soos die kosproewers wat moes seker maak dat die kos heilsaam is (of ten minste nie skadelik is nie), en soos wat jong kinders wil seker maak van dít wat hulle eet, moet ons seker maak van dit wat ons inneem. Dit wat ons toelaat om deel van ons te word.
Dis nie heeltemal so eenvoudig soos ´n kleintydse tong-tippie toets nie, want hier is meer as ´n bord kos te sprake. Dit was ons sien en dit waaraan ons ons ore uitleen, dit waaroor ons gesels en waaroor ons dink en broei word alles deel van ons, deel van ons denkpatrone. Dit lyk ook soms onskuldig, soos ´n geurige bord kos. Dit lyk soos ontspanning, vriendelike geselsies, nuus uitruil of ´n nuwe uitdaging. En voor ons ons kan kry, is daardie verkeerde woorde, daardie manier van dink en daardie verwronge prentjies ook deel van ons denkpatrone. “Wees versigtig met wat in jou hart omgaan,” waarsku die Spreuke skrywer. “Want dit bepaal jou hele lewe.”
Paulus stel dit só in sy tweede brief aan die Korintiërs: “Ons neem ook elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak.” Wyse raad. Net soos wat kosproewers ´n skans moes vorm en moes seker maak dat skadelike kos nie op die koning se bord beland nie, moet ons waak teen dit wat oor ons pad kom, dit was ons inneem en deel van ons maak.
En alhoewel ons nie altyd beheer het oor ons buitewêreld nie, kan ons met die hulp van die Gees beheer neem van ons binnewêreld. Ons kan nee sê vir die slegte en verkeerde dinge wat aan ons harte en huise se deure aanklop. Ons kan dit wat voor ons is, krities beskou. En ons kan dit wat verkeerd is gevange neem en weghou van dit wat vir ons kosbaar is.
Ons moet waaksaam wees, en versigtig proe. Dit bepaal inderdaad ons lewe.
Geskryf deur Susan Goosen